Die Bloemfonteiners wat deel van die Suid-Afrikaanse netbalspan vorm, is van links Refiloe Nketsa, Lefébre Rademan, Khanyisa Chawane en Karla Pretorius. Foto: KovsieSport


Vier netbalspelers met verbintenisse tot die Universiteit van die Vrystaat (UV), is vir die Suid-Afrikaanse Wêreldbekerspan, wat van vandag tot Saterdag (06/08) aan die Netbal-wêreldbekertoernooi in Kaapstad deelneem, gekies.

Dit is die eerste keer dat die netbal-wêreldbekertoernooi in Afrika aangebied word.

Voormalige Kovsie Karla Pretorius speel vanjaar in haar derde wêreldbeker en nog ’n alma mater Khanisa Chawane speel in haar tweede wêreldbeker. Chawane is nou ’n assistent-spanafrigter van die UV se netbalspan. Sy het al 68 keer vir Suid-Afrika gespeel.

Pretorius is in 2019 by die Netbal-wêreldbekertoernooi in Liverpool waar Suid-Afrika vierde geëindig het, aangewys as die waardevolste speler op die toernooi. Dié voormalige Kovsie-kaptein het Suid-Afrika al 98 keer verteenwoordig. Pretorius is die Proteas se onderkaptein in dié toernooi.

Lefébre Rademan, ook ’n voormalige Kovsie-netbalkaptein en Refiloe Nketsa, ’n Kovsie-student, is onder die drie reserwespelers vir die groep.

Rademan het 35 wedstryde vir die Proteas gespeel en Nketsa 10.

Die Proteas is ingedeel in groep C saam met Jamaika, Wallis en Sri Lanka.

Die Proteas speel om 18:00 hul eerste wedstryd in die toernooi teen Wallis.

Saterdag (29/07) speel die Proteas ook om 16:00 teen Sri Lanka en Sondag om 18:00 teen Jamaika.

You need to be Logged In to leave a comment.