Vier verdagtes tussen die ouderdomme van 20 en 40 is by twee huise in Bayswater in Bloemfontein deur lede van die Valke se Ernstige Misdaadondersoekeenheid in hegtenis geneem nadat ondersoek ingestel is oor bewerings van menslike handel.
Die Valke se eenheid vir ernstige en georganiseerde misdaad het Dinsdag toegeslaan op die toneel nadat hulle inligting ontvang het van ’n voorval waarin ’n 39-jarige Bloemfonteinse vrou na bewering deur ’n vroulike verdagte na ’n huis gelok is met beloftes van ’n beter lewe.
Nadat sy nuwe klere en kos ontvang het, is daar na bewering vir haar dwelms ingegee en is sy gedwing om die huis skoon te maak en dade van seksuele aard te verrig.
Klagte van onder meer die handel in mense, die onwettige besit van dwelms die onwettige besit van ’n uniform van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie word ondersoek.
Die vier sal binnekort in die landdroshof verskyn.
Die Vrystaatse hoof van die Valke, Genl.maj. Mokgadi Bokaba, het gemeenskappe gemaan om waaksaam te wees en gevalle van menslike handel aan te meld.