“Gandhi Coetzee. Onvoorwaardelike liefde. Ongekende seer.”
’n Boodskap wat my ’n maand later steeds onkant betrap.
Die liewe ou worshond, opgekrul op die toonbank van Andries se alombekende “shoppie” in Westdene.
Geen klant sou ooit ná die betaalslag uitstap sonder die bonus van ’n sagte kyk of die lui waai van ’n stert nie. En toe, vier weke terug, het Gandhi vir die laaste keer van die toonbank afgespring. Bloemfontein het saam met Andries gehuil.
Selfs die bekendste aanlyn ensiklopedie sou Boegoe Smith nie akkuraat genoeg kon beskryf nie.
As ’n ware Vrystater het hy weekliks gereis tussen Bloem en die plaas by Rouxville. Onmiskenbaar bekend was hy op die sosiale media met sy moddergesig, sy gehardloop stofpad langs en ’n wye oopbek-lag agterop die trok. Ook ou Boegoe het onlangs sy laaste kattekwaadstreek uitgehaal. Hoe sal ons ooit sy onbeplande, dalk beplande, busrit Botshabelo toe vergeet?
Weer het Bloemfontein getreur. Oor Theodore van der Walt. Hierdie keer saam met Efraim en Ilse, wat hul toypom ná vyf kort jaar moes groet.
’n Fratsongeluk. Onverwags.
So bitter seer.
Hy was vreemdes, kinders en iedereen se vriend. Die onthou-foto vertel hy was mooier as ’n mens.
Pastoriehond Bruno Lubbe was ’n bekende klein langlyf-skaduwee. Soos net ds. Jan hierdie onverstaanbare seer so tierlantynloos kan beskryf: “ . . . ons gaan jou net gewoon oneindig, oneindig, oneindig mis.”
’n Klein bruin hond, wat kameraadskap en lojaliteit agt jaar lank tot ongekende hoogtes gevoer het.
’n Gesig vol persoonlikheid, dit was Henry du Toit: ’n Engelse bulhond wat Huibrie en haar bosnimf in omgee en liefde laat bly glo het ná die onverwagse groet van ’n man en ’n pa. ’n Volwaardige inwoner van Waverley, wat Bloemfontein laat ween het toe sy werk klaar was en hy gaan rus het by sy mensepa.
En so is daar hondevriende, bekend en onbekend, wat ons dorp laat vol loop met blydskap, liefde, persoonlikheid en onvoorwaardelike kameraadskap. Oor elkeen word daar iewers gesels, staaltjies gedeel, gelag. Oor elkeen word daar met die laaste uittog saam getreur.
Aan al hierdie honde van ons dorp het ek onlangs weer gedink toe ek en my huis Toffie moes groet. My prinses, vyf jaar gelede opgetel langs die pad buite Potchefstroom.
Jy met jou skropborselhare was die toonbeeld van onselfsugtigheid, dankbaarheid vir “om te behoort aan ons”. Jy het veels te vroeg oor die reënboogbrug gedraf. Maar met elke vrolike kleur wat oopgegooi is so ver as wat jy daardie dag jou laaste reis aangedurf het, het ek in my seer hart meer en meer hondevriende vir jou sien wag by jou nuwe aankomplek.
En vir jou, Toffie de Jager, soos ook vir elke hondekind van ons dorp, sit ek vandag ’n naamklip, ’n klein monument, neer by die ingang van ons dorp.