Dooie visse dryf saam met rou riool in die Renosterspruit af.
Inwoners van die hoewegebied Roodewal sê dié probleem word die afgelope twee maande al erger en nou dryf dooie visse die spruit af.
Die DA het Maandag (12/09) ’n optog deur Bloemfontein gehou en ’n memorandum met meer as 6 000 handtekeninge aan die kantoor van die premier oorhandig.
Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, het tydens die optog gesê talle probleme wat die verskaffing van drinkwater en rioolbesoedeling in die Vrystaat insluit, is opgeneem in die memorandum wat aan premier Sisi Ntombela oorhandig gaan word.
Manko Buffel, die premier se kantoorhoof, het die memorandum namens die premier ontvang. Sy sê die premier is sedert Sondag (11/09) in Jagersfontein, waar ’n slikdam gebreek het en dele van Charlesville en Itumeleng met slik oorstroom is. Sy sê hulle sal die memorandum so gou moontlik aan die premier oorhandig sodat dit in haar kabinet bespreek kan word.
Jankielsohn sê die memorandum vereis dat die provinsiale regering stappe doen om munisipaliteite met die bestuur van water- en ander diensleweringskwessies te help.
Hy sê die toenemende werkloosheid en armoede in Vrystaatse dorpe en gemeenskappe kan direk met die tekort aan basiese dienslewering in dié dorpe verbind word.
“Die Vrystaatse provinsiale regering en munisipaliteite het geen planne wat ingestel is om basiese dienslewering te verbeter nie.”
Dat 6 087 individue die watergriefskrif onderteken het, sê hy, is ’n aanduiding dat die plaaslike munisipaliteite in die provinsie ernstige waterverskaffingsuitdagings en rioolbesoedeling het wat as plaaslike ramptoestande verklaar moet word.
Van die kwessies wat in die memorandum aangespreek word, sluit in:
- die tekort aan tegnici en bestuur wat met die verskaffing van water en die suiwering van riool werk;
- swak beplanning, finansiële wanbestuur en ’n tekort aan die oordeelkundige aanwending van geld om basiese dienste te lewer;
- die verouderde waterverskaffinginfrastruktuur en swak onderhoud van dié infrastruktuur;
- die wanbetaling van inwoners en regeringsinstellings, asook in baie gevalle die kultuur van wanbetaling deur munisipaliteite aan waterrade vir water wat gelewer word; en
- swak munisipale vullisverwydering en rioolsuiwering, wat ’n ernstige omgewingsbedreiging vir die gemeenskappe, asook dieregesondheid, inhou.
Mokgadi Kganakga, DA-raadslid van wyk 47, sê inwoners van Roodewal is moedeloos oor die riool wat verby hul hoewe en ook verby gastehuise en restaurante vloei.
“Die rioolplaas wat in Roodewal gebou is om die een in Nuwe Ooseinde te ondersteun, is slegs ’n derde klaar gebou, maar werk teen 100% kapasiteit,” sê sy.
“Altwee hierdie rioolsuiweringsaanlegte lek ernstig en dié water vloei nou in die Renosterspruit.”
Sy sê sy meld die swak werking van die rioolsuiweringsaanleg al sedert 2019 by die metro aan. “Hulle het belowe hulle sal nou daaraan aandag gee, maar dit gaan miljoene rande neem om die Roodewal-aanleg behoorlik te laat werk.”
Sy sê behalwe daarvoor dat die stinkende water verby mense se hoewe vloei, dui die reuk van die vrot water en die dooie visse ook op ’n groot gesondheidsgevaar.
“Die groot probleem is dat as daar nie betyds aandag aan die riool in die spruit geskenk word nie, die grondwater later besoedel sal word – dit kan ’n groot gesondheidsgevaar vir mens en dier inhou.”
Sy sê die rioolsituasie is so erg dat dit van die Bram Fischer-lughawe geruik kan word.

