Vind vreugde in orde

Enige tyd van die jaar kan noodgedwonge, of uit vindingryke wilsbesluit, die ideale geleentheid bied om dinge reg te ruk en vir elke ding ’n plek te kry. Deel hiervan is om prosesse in te stel om die lewe vir jouself makliker te maak. Riaan Saayman gee raad.


Tradisioneel is die lente ’n tyd vir die regpak, uitsorteer en skoonmaak van ’n mens se woon- en werkplek. Dit is asof die vooruitsig van vernuwing wat met dié seisoen inhou, die proses – wat so nou met ’n mens se gemoedswelstand saamhang – sommer aan die gang skop.

Dit is egter ook waar dat lewensveranderende gebeure nie netjies met Moeder Natuur se seisoene saamval nie.

Enige tyd van die jaar kan noodgedwonge, of uit vindingryke wilsbesluit, die ideale geleentheid bied om dinge reg te ruk en vir elke ding ’n plek te kry. Deel hiervan is om prosesse in te stel om die lewe vir jouself makliker te maak.

Hoewel dit heel eenvoudig klink, is mense dikwels huiwerig of ontmoedig om orde te skep.

Riaan Saayman is iemand wat kan getuig dat daar geen beter tyd as die hede is om verandering aan te gryp nie. Die onderneming Walle Declutter is in 2020 begin nadat hy in sy loopbaan vasgevang gevoel het en uit sy professionele werk bedank het.

“Ek het my huis ontrommel en die meeste van my persoonlike huisinhoud verkoop of weggegee. Nietemin, dit was lewensveranderend. Ek het ligter, meer gefokus gevoel. En ook seker oor in watter rigting ek op pad is.”

Saayman verduidelik die algemene Amerikaanse huishouding het 300 000 artikels in die huis.

“Die gedagte daarvan moet enige persoon angstig maak.”

Hoewel Suid-Afrikaanse statistiek hieroor nie beskikbaar is nie, meen Saayman ons land volg dieselfde tendens.

Wat mense se huiwerigheid betref om beheer te neem of van besittings afstand te doen, verduidelik hy dat die agtergrond hiervoor heel verwikkeld kan wees.

“Mense wil nie uitgelewer voel aan die angs en vrees vir die lewe of emosies nie en hunker na sinvolle ervaringe in hul werkskapasiteit, verhoudinge, vriendekring en so meer. Gesonde verhoudings met mense help ons om sinvolle en waardevolle ervarings te hê.

“Sodra ons uitgelewer voel, word ons ’n slagoffer van die baie sterk bemarking van groot, en selfs klein, ondernemings. Ons word slagoffer van die idee dat wanneer ons iets koop, gaan ons beter voel, lyk en miskien wees. Dit is immers ’n leun, ’n idee wat bemarking suksesvol maak.

“Die opgaar van artikels, die aankoop van goedere, die aanskaf van klere wat nooit gedra word nie, word dan aangedryf as ’n simptoom van ons behoefte vir sinvolle en waardevolle ervaringe met onsself en ons verhoudinge met mense.”

Saayman deel die volgende wenke met Bloemnuus se lesers:

* Begin klein, en identifiseer artikels in jou huis om te ontrommel wat jy weet nie voldoen aan die volgende nie.

– Die artikel het geen funksionele gebruik nie.

– Die artikel bied geen waarde tot jou lewe nie.

– Jy gebruik nie die artikel nie.

* Hersien ruimtes in jou huis met doelbewustheid. Byvoorbeeld: Oorweeg hoe jy natuurlik in jou kombuis werk as deel van die proses om kos te maak.

Maak dit sin om jou bekers in die kas verste regs oorkant ’n ketel te sit? Of sou dit meer funksioneel wees om koffiebekers naby ’n ketel te bêre?

* Kinders gaar speelgoed en hul kunswerke op, en dit sluit grootmense in. Ons leef in ’n digitale era. Kies die prentjies, briefies en sentimentele items wat deur kinders gemaak is uit liefde en neem foto’s daarvan, of laat dit professioneel skandeer en as ’n enkele album voorberei.

* Moenie die proses van ontrommeling alleen aanpak nie, veral nie wanneer jou omgewing jou juis angstig maak nie. Dit sal wees soos om van ’n algemene Koos wat daagliks net roomys eet te vra om berg Everest uit te klim.

Die proses moet sinvol en doelbewus wees, en verg baie moeite – in vlees en gees.

* Pak vertrek ná vertrek aan deur vir jouself doelwitte te stel. Byvoorbeeld: Vir Maart gaan ek my kombuis ontrommel en organiseer. Die volgende maand my slaapkamer, ens.

* Gee weg. Daar is baie mense in nood en die meeste huisgesinne het soveel artikels wat ongebruik is. Jy kan ’n verskil maak in jou gemeenskap deur terug te gee. Alles wat nie tot jou lewe waarde toevoeg nie – gee weg.

Dit is sielsverykend en verander lewens.

* Vir die wintermaande is motorhuise ’n goeie ruimte om te ontrommel, want dit reën nie, of reën minder as in die somermaande. 
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.