Een oulike prentjie van ’n worshond op Facebook het ’n desperate ma van Bloemfontein ’n ommekeer laat maak van heeltemal moedeloos na ’n suksesvolle entrepreneur.
Helena D’Offizi is ’n opgeleide grafiese ontwerper, maar die besigheid wat van ondernemings en fotograwe aan haar gestuur is, het weens Covid-19 byna heeltemal opgedroog.
“Ek was regtig moedeloos. Ek doen baie redigeerwerk aan troufoto’s en daar het verlede jaar met die streng inperking byna geen werk ingekom nie.”
Sy het einde verlede jaar eendag ’n foto van ’n worshond geneem, dit effens geredigeer en dit op Facebook geplaas. In die plasing het sy gewys hoe die foto gelyk het en hoe dit gelyk het nadat sy ’n bietjie met idees rondgespeel het.
“Skielik het die bestellings ingestroom – mense van oral oor die land heen wou hul troeteldiere op só ’n wyse verewig. Sommige het selfs vir my foto’s gestuur van hul geliefde troeteldiere wat dood is.
“Sommige foto’s is mooi en kan net so gebruik word. By ander moet ek bietjie rondspeel om dit spesiaal te maak.”
Die foto’s word eindelik op houtplankies aangebring. Sy het navorsing gedoen en baie video’s op YouTube gekyk om die beste tegniek hiervoor te kry.
Helena en haar man, Gianni, het dikwels tot 02:00 houtplanke afgeskuur om die foto’s daarop te découpage.
“Ek het al seker byna 2 000 troeteldiere op dié houtborde vasgelê. Nie net honde nie – ek het al selfs ’n bordjie van ’n krimpvarkie vir iemand gemaak.”
Helena Photobooks and Blogs het vinnig ’n gewilde onderneming geword.
“In die begin was daar een of twee navrae per dag, maar nou kry ek dikwels tot 60 navrae ’n dag.”
* Lees volgende week in Bloemnuus hoe Gianni ook die wurggreep van Covid-19 vrygespring het met ’n blink idee wat so vinnig gegroei het dat hulle onlangs die onderneming na ’n groter perseel moes skuif.
Teken hier in om Bloemnuus se weeklikse nuusbrief te ontvang en meer stories soos hierdie te lees:
https://netwerk24.us5.list-manage.com/subscribe?u=aca59ee9c2f6f5543c9097f22&id=3bd83050e0