Vindingryke sakkies vir vroetel, troetel en verligting gee katjies nog ’n kans

Juanique van den Berg met van die sakkies wat sy gemaak het.Foto: Verskaf


Terwyl die meeste leerlinge die afgelope week lekker vakansie gehou het, het ’n gr. 8-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje hard gewerk aan spesiale terapie-sakkies wat sy vir haar nie-winsgewende onderneming maak.

Juanique van den Berg gaan dié sakkies op Saterdag 5 Oktober op die Franse Mark by Villa Avianto verkoop.

Die jong entrepreneur vertel haar onderneming Cozy Pouch Therapy Bags het in 2022 begin toe sy ’n erg verswakte katjie langs die pad opgetel en hom versorg het.

Kort daarna het sy nog ’n katjie gered, wat met bloedkanker gediagnoseer is en die hele tyd koud gekry het. Sy het vir hom ’n warm sakkie gemaak uit ’n ou mat en dit met rys opgestop sodat dit warm gemaak kon word.

Deesdae versorg sy sewe katte wat ’n veilige tuiste by haar gevind het.

Om geld vir die versorging in te samel, het sy begin om Cozy Pouch-warm en koue sakkies te maak, wat gebruik kan word om seer spiere te laat ontspan en met maagpyn te help; ook sakkies met kruie-geure wat ’n mens aan die slaap sus. Sy maak ook sensoriese vroetel-sakkies met die kalmerende geure van laventel. Hierdie sakkies, wat sy Fidget Friend noem, is volgens haar ook lekker vir jong vingertjies wat nuwe teksture ontdek.

By haar stalletjie op die Franse Mark gaan sy ook inkopiesakke en ’n paar kat-speelgoed verkoop.

Juanique wil met die inkomste uit haar stalletjie genoeg verdien sodat sy vir haar katte kan sorg en vir hul kos en inentings kan betaal, asook vir een van die katte se sterilisasie.

Sy probeer ook om terug te gee aan die gemeenskap en om, wanneer moontlik, ander instansies wat diere versorg te help.

Sy wil die publiek bewus maak van die lyding van diere, en dat elke lewe die moeite werd is om te red.

“Mense moet betrokke raak by diere-organisasies deur diere aan te neem, by ’n diere-skuiling uit te help, skenkings te gee en die bewusmaking van die lyding van onskuldige diere te bevorder,” glo Juanique.

Die Franse Mark duur van 09:00 tot 15:00. Toegang kos R30.

You need to be Logged In to leave a comment.