Die blitsvinnige optrede van die AfriForum-buurtwag in Wilgehof asook sekerheidspersoneel het gekeer dat ‘n brand groot skade aanrig aan ‘n kettingwinkel in Gardeniapark.
Costa Bunyaz, mede-eienaar van die Gardenia-Kwikspar sê hy is uiters dankbaar teenoor lede van AfriForum, veiligheidspersoneel en die brandweer wat blitsig op ‘n brandalarm gereageer het. Die alarm het Maandag (15/02) om 21:20 afgegaan nadat ‘n brand in die kombuis van die winkel ontstaan het.
Die winkel was Dinsdag weer oop vir sake. Bunyaz het Dinsdagmiddag gesê die elektrisiëns is kliphard besig om die skade te herstel. “Die groot skade was aan die voorraad van die bakkery en varsprodukte, maar ek is baie dankbaar dat die brand so vinnig geblus is om verdere skade te voorkom.”
Manie de Klerk, voorsitter van AfriForum se Wilgehoftak, sê lede van die tak, VR Sekuriteit en Med24 was binne twee minute vandat die oproep ontvang is, op die toneel. “Personeel van die winkel was ook blitsig op die toneel en ons kon vinnig die brand blus en skade beperk.”
De Klerk sê die tak was gereed vir die brand. “Ons het verlede jaar baie voorbereidings getref vir veldbrande en al ons toerusting is dus gereed.” Hy sê hulle het die tak asook die winkel se brandblussers gebruik om die brand vinnig te blus. De Klerk sê die brandweer is ook ontbied en was binne 15 minute op die toneel, maar toe was die brand reeds geblus.
AfriForum het ‘n gebeurliksheidsplan opgestel vir enige insident by die winkelsentrum. De Klerk sê hulle werk goed saam met die verskillende winkeleienaars.
Nadat die buurtwag se lede Maandag-aand op die toneel aangekom het, is die inwoners in woonstelle in die sentrum ontruim en na ‘n veilige gebied geneem waar skarebeheer toegepas is.
Die gebied is afgesper sodat nooddienste vinnige toegang tot die perseel kon kry. Med24 se personeel was ook teenwoordig om toe te sien dat almal veilig is.
“Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Renaud.
Die oorsaak van die brand was teen Dinsdag nog nie bekend nie.