Kaartjies vir Vrydag (21/10) se rugbywedstryd tussen die Cheetahs en die Griekwas in die Toyota-stadion, kos net R10.
Dit is die laaste wedstryd in die Toyota-uitdaagreeks wat op 30 September begin het toe die Cheetahs die Bulle gewen het. Daarmee saam het die Cheetas prysgeld van R250 000 gekry en het Victor Sekekete R10 000 as speler van die wedstryd gekry.
Tydens elke wedstryd staan ’n toeskouer ook ’n kans om prysgeld te wen en op 30 September was dit Lebohang Mokohomo.
Op 9 Oktober het die opkomende span van Ierland die Cheetahs getroef. Nicole Sehwerert het die toeskouerprys gewen.
Die Cheetahs was egter weer op 14 Oktober die wenner in die wedstryd teen die VSA nasionale A-span met Rosko Spekman wat as speler van die wedstryd aangewys is.
Hermanus Joubert het die prys #ToyotaFanLegend van R10 000 gewen.
Die hekke open Vrydag om 14:00 met die eerste wedstryd tussen die Pumas en die Amerikaners wat om 17:00 begin. Die hoofwedstryd tussen die Cheetahs en die Griekwas begin om 19:00.
Kaartjies is by die stadion se kaartjiekantoor asook op die webwerf ticketpros.co.za beskikbaar.