Bloemfontein se kampioen-atleet het Saterdag (16/04) die Two Oceans-halfmarathon se twee-uur bus netjies parkeer.
Noudat Louzanne Coetzee die eerste gesiggestremde pasaangeër in dié Kaapstadse halfmarathon was, het sy vir haarself ’n nuwe doelwit gestel: Sy wil die ultramarathon ook in die toekoms voltooi.
Coetzee (29) en haar gids, Claus Kempen (38), het as pasaangeërs opgetree vir hardlopers wat die 21 km binne twee uur wou voltooi.
“Ek het vir hardlopers raad gegee en lekker geselsies aangeknoop,” sê sy.
Hoewel sy nie in haar gewone mededingende hoedanigheid deelgeneem het nie, was die wedloop vir haar verrykend.
“Alles rondom die naweek, veral ons eie Suid-Afrikaanse vroue wat so goed presteer het, was ongelooflik.”
Coetzee sê die prestasie van die oud-Kovsie Gerda Steyn, wat Sondag (17/04) die ultramarathon gewen het, en Irvette van Zyl, wat die tweede plek behaal het, het ’n nuwe droom in haar wakker gemaak.
Vir nou wil sy egter eers op haar baanwerk konsentreer. Oefening vir atletiek en lang afstande verskil baie van mekaar, sê sy.
Nadat Kempen Saterdag saam met Coetzee die halfmarathon voltooi het, het hy ook in die ultramarathon as pasaangeër opgetree.
Hy het die Two Oceans-ultramarathon nou al 12 keer kafgedraf en die halfmarathon een keer voltooi.
Boonop het hy die Comrades-wedloop al 15 keer voltooi en ’n keer of wat as pasaangeër opgetree.
Pasaangeërs help deelnemers om ’n wedloop reg te benader afhangende van die tyd waarin hulle dit graag wil voltooi.
Kempen het Sondag die vyf-uur “bus” bestuur.
“Ek het die bus in 4:48 parkeer, so ek het my pas goed gehou,” het hy Maandag gesê terwyl hy en sy gesin van Kaapstad teruggekeer het.
Coetzee vlieg vandag (21/04) weer na Kaapstad, waar sy vanmiddag op die Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms vir senior atlete aan die 5 000 m-wedloop gaan deelneem.
Dié byeenkoms duur tot Saterdag (23/04).
Volgende maand gaan sy in Stellenbosch aan die nasionale studentebyeenkoms se halfmarathon deelneem.
- Coetzee en Kempen het verlede jaar op die Olimpiese Spele in Tokyo ’n bronsmedalje in die marathon vir T11- en T12-vroue gewen.
Saam met haar ander gids, Estean Badenhorst, het sy ’n silwermedalje in die 1 500 m-wedloop (T11) gewen.