Carla Smith met Anna-Mart van der Merwe in die toneelstuk Speelgoed van Glas.

Die Vrystaat Kunstefees wat van 15 tot 19 Julie in Bloemfontein plaasvind, verwelkom weer vanjaar die visionêre talent van Nico Scheepers.

Hy is nie net regisseur en skrywer van talle produksies op die fees nie, maar gaan ook ‘n werksessie vir jong talentvolles aanbied.

Scheepers sê dit is vir hom lekker om by die fees in Bloemfontein betrokke te wees.

Willem van der Walt is in die produksie Seun, gebaseer op Dana Snyman se memoir. Foto’s: Verskaf

“Ek is baie lief vir die Vrystaat Kunstefees. My produksies Amper, Vrystaat en Nêrens, Noord-Kaap het hier gedebuteer. Die kampus het van die beste teaters in die land.

“Ek sien uit om teater te kan maak en is trots dat dit nie net in ons taal oorleef nie, maar floreer. Dit word noodge-dwonge aan die lewe gehou deur ‘n tipe van ‘n kollektiewe onderbewussyn – asof

Afrikaanssprekendes in hulle murg weet dít is waar ons taal se voorbestaan natgelei moet word. Dit is die grootste eer.”

Hy behartig die regie van die toneelstuk Seun. Dit handel oor die memoir van die skrywer Dana Snyman. Die produksie met akteur Wilhelm van der Walt wys niemand is alleen in hul vrees en verwarring oor ander mense se gedrag nie.

‘n Gesprek oor die boek, Seun, vind ook vanjaar by die Litfees plaas. Elsabé Zietsman sal met Snyman in gesprek wees.

Die tweede produksie waarby Scheepers betrokke is as regisseur, is Speelgoed van Glas. Dit handel oor die weerloosheid en die feilbaarheid van ‘n familie wat verken word in ‘n tydlose, klassieke verhoogstuk.

Hy bied ook ‘n skrywerskursus, Die Skrywer se Pen – skep jou eerste toneel, op die fees aan. Hy gee leiding oor hoe dialoog, visuele vertelling en karakterdinamika ‘n boeiende rolprent skep.

Michael Garbett, feesdirekteur, sê dit is ‘n eer om Scheepers by die fees betrokke te hê.

“Hy verteenwoordig die hart van wat Suid-Afrikaanse kuns vandag is.

“Hy is vreesloos, oorspronklik, en diep menslik.”

You need to be Logged In to leave a comment.