’n Opwindende jaar met vier Franse Mark-geleenthede word by Villa Avianto in Kwaggafontein, net buite Bloemfontein, beplan.
Die eerste mark word op Saterdag 4 Maart aangebied en beloof om ’n eksklusiewe geleentheid te wees.
Bloemnuus
is die mediaborg van die Franse Mark vir 2023.
Suretha van Heerden, eienaar van Villa Avianto en koördineerder van die Franse Mark, sê die besluit om die mark kwartaalliks en meer eksklusief aan te bied, sal voordeel vir markgangers en uitstallers inhou.
“Ons wil graag die mark vestig as ’n eksklusiewe inkopie-ervaring waarna mense elke kwartaal kan uitsien,” sê Suretha.
“Ons visie is nie net dat uitstallers goeie sake sal doen nie, maar ook dat die Franse Mark ’n plek sal wees waar vriende bymekaarkom en lekker kuier, eet en tyd saam deurbring in ’n veilige omgewing.”
Unieke produkte, asook stalletjies met heerlike kosse, koffie, jenewer, bier, wyn, kase, varsgebak en ’n verskeidenheid klere en dekor-artikels, is op die Franse Mark beskikbaar. Plaaslike kunstenaars sal vermaak verskaf, wat die gesellige samesyn sal komplementeer.
Die mark duur van 07:30 tot 15:00. Toegang kos R30, en R10 vir laerskoolleerlinge. Kinders ses jaar en jonger kry gratis toegang.
Die ander drie markte vir vanjaar word beplan vir 3 Junie, 2 September en 2 Desember.
Aansoeke om op die Franse Mark van 4 Maart uit te stal is reeds oop. Uitstallers met unieke, eksklusiewe en gehalteprodukte kan op villa-avianto.co.za aansoek doen.
Kontak Villa Avianto by 083-329-4872 of besoek die webblad vir meer inligting.