Die e-pos-adres waarheen mense beswaar kan indien teen die voorgestelde wysigingswetsontwerp oor vuurwapenbeheer, werk nie aldag soos dit moet nie.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL) sê dié organisasie sal seker maak dat lede en ondersteuners se stemme gehoor word.
“Indien nodig sal Vrystaat Landbou (VL) persoonlik kommentaar lewer op die wysigingswetsontwerp op vuurwapens,”sê Wilken in ‘n nuusverklaring.
Die wysigingswetsontwerp op die vuurwapenbeheer het sedert die publikasie daarvan in die Staatskoerant op Vrydag 21 Mei aansienlike aandag getrek.
Die wetsontwerp sal onder meer wapeneienaarskap vir selfverdediging verbied.
Vrystaat Landbou is reeds op rekord dat hierdie wetsontwerp die landelike en landbougemeenskap ernstig blootgestel sal laat.
Volgens VL het verskeie mislukkings om klagtes te lewer tot sy aandag gekom. Die organisasie het ‘n brief aan die sekretaris van die polisie gestuur waarin hy kommer oor die kwessie uitspreek.
Bykomend is daar ook ‘n brief deur die prokureur MJ Hood & Associates aan die sekretaris van die polisie gestuur.
“Aangesien die land nog steeds in die greep van die nasionale ramptoestand is, is elektroniese insette die belangrikste kanaal waarmee die publiek geraak kan word. Die huidige situasie ondermyn die hele proses. ” sê Wilken.
Om te verseker dat diegene wat teen die wetsontwerp gekant is se stem gehoor word, het Vrystaat Landbou ‘n skakel op sy webwerf beskikbaar gestel (https://vrystaatlandbou.co.za/protect-your-right-to-self-defence/ ) wat lede van die publiek kan voltooi. Die voorleggings sal deur VL by die sekretariaat van die polisie ingedien word. “Ons moet toesien dat die publiek se stem hieroor geensins geïgnoreer word nie”.