Hier is nog een van Marie Lombard se resepte vir wildsvleis. Dit is ’n lekker lusmakertjie vir die De Oude Kraal se WildsKOSfees wat op Saterdag 4 Junie aangebied word.

Die personeel van De Oude Kraal is reeds kliphard aan die werk om die talle wildskosgeregte en ander lekkertes vir die fees gereed te kry.

Sentraal24 is die mediaborg vir vanjaar se fees.

Wyn van 22 wynlandgoedere sal ook vanjaar op die fees geproe en gekoop kan word.

Lekker aktiwiteite vir oud en jonk word beplan.

Kaartjies vir die WildsKOSfees is nou reeds beskikbaar teen R550, of betaal R950 om te deel in die smaaksensasie van die eksklusiewe kos-en-wynproe-afdeling.

Gewone kaartjies vir kinders 13 tot 17 jaar kos R250 en vir kinders 6 tot 12 jaar is dit R150.

Kaartjies is by Crazy Daisy in Fleurdal Mall, by Daisy & Co in Prellerplein of by De Oude Kraal beskikbaar deur 071-679-6596 te skakel, of stuur ’n e-pos na info@deoudekraal.com.

Marie se Springbok-vleisbroodjie

Bestanddele:

300 g spek, verkieslik met baie vet

1 ui in blokkies gekap

100 ml water

ou brood – verkieslik wit

500 g maalvleis (350 g springbok en 150 g varkvleis)

125 ml melk

1 eier

1 hand vars tiemie

2 ml neut, vars gemaal

7 ml sout

3 ml swartpeper, vars gemaal

1 t suiker

2 t suurlemoen

1 t asyn

Maak só:

Voer ’n klein broodpan met repies spek uit.

Sny die ui in klein blokkies en kook in water tot sag.

Braai uie saam met die speserye in botter tot bruin.

Gooi maalvleis in bak en maak fyn met vurk. Gooi melk en brood saam.

Meng alles saam en gooi in maalvleis. Meng dit goed. Pak dit in ’n broodpan en bedek die maalvleis met spek.

Bak die vleisbroodjie teen 180 °C vir 50 min. Laat dit afkoel. Dit kan koud of warm bedien word.

Bedien met mentjellie.

You need to be Logged In to leave a comment.