Vlieënier van Kroonstad vlieg nou hoog met arendsvlerke

Hy is te gou van hulle weggeneem, maar ná jare se laag vlieg as lugbespuitingsvlieënier, vlieg Hennie Viviers (63) van Kroonstad nou hoog met arendsvlerke.


Hy is te gou van hulle weggeneem, maar ná jare se laag vlieg as lugbespuitingsvlieënier, vlieg Hennie Viviers (63) van Kroonstad nou hoog met arendsvlerke.

So het sy seun Steve (35) Saterdag in ’n aangrypende huldeblyk op Viviers se gedenkdiens in die NG kerk Kroonstad-Oos gesê.

Steve, wat saam met sy pa as lugbespuitingsvlieënier vir die Castello-boerdery naby Ventersdorp in Noordwes gewerk het, was in ’n vlieëniersuniform.

Hennie en die egpaar Casper en Estelle Botha (albei in hul 50’s) van die boerdery is op 29 Desember in ’n vliegongeluk naby Carletonville, Gauteng, dood. Volksblad het vroeër berig Hennie was besig om die boerdery se grond te bespuit toe die vliegtuig waarmee hy gevlieg het en die ligte vliegtuig waarin die Botha’s was, in ’n lugbotsing betrokke was. Albei vliegtuie het aan die boerdery behoort.

Steve het daardie dag sowat 10 minute van sy pa af gespuit en was een van die eerstes op die ongelukstoneel.

Vliegtuie het Saterdag voor die diens in formasie oor die kerk gevlieg, met een vliegtuig wat weggebreek en boontoe gevlieg het. Dít is ’n tradisie wat ter nagedagtenis van ’n gevalle vlieënier uitgevoer word.

Hennie was ’n gesoute vlieënier – hy het byna vier dekades gevlieg en sowat 15 000 vliegure op sy kerfstok gehad.

Steve het sy pa in die huldeblyk as ’n legende en baanbreker in die vliegbedryf bestempel.

“Baie van ons vlieg vandag groot en sterk vliegtuie met goeie toerusting in danksy hom wat op die regte tyd aan die regte mense gekarring het om hulle die land in te bring,” lui sy huldeblyk.

Die Castello-boerdery was destyds die eerste in die land wat ’n Air Tractor 502 XP-spuitvliegtuig en ook die Air Tractor 802, tans die grootste spuitvliegtuig in die land, besit het, het Steve voorheen aan Volksblad gesê.

Hennie het omtrent ’n dekade vir die boerdery gewerk. Steve het by sy pa se dood sowat drie jaar en vier maande saam met hom daar gewerk.

Hulle het in afsonderlike vliegtuie gevlieg. ’n Foto wat geneem is van die twee vliegtuie terwyl die pa en seun saam spuit, het voor in die kerk gestaan by die kissie met sy as in. “Oggende is nou moeilik en stil sonder Pa, maar as die verlange te erg raak, kyk ek links agter my, dan vlieg Pa steeds daar.”

’n Individuele foto van Hennie is by die kerk se deur vertoon.

Hennie word onder andere ook deur sy vrou, Annalie (65), hul ander seun, Jean-Pierre (33), ’n skoondogter, Thia Viviers, en kleinkinders, Annien (4) en Stephanie (2), oorleef.

Hennie, ’n oudleerling van die Hoërskool Bothaville, en Annalie was 38 jaar getroud. Met sy dood het hulle reeds 35 jaar op hul kleinhoewe in Kroonstad gewoon. Hy het egter in Potchefstroom, waar Steve en sy gesin ook bly, vir sy werk gewoon.

Volgens Steve was Hennie ’n streng maar regverdige, liefdevolle pa. “Jy het ons geleer as jy iets wil hê, moet jy kan vroeg opstaan en werk daarvoor.”

Hy was ’n goeie man vir hul ma en het haar alles gegee waarvoor sy gevra het, en ’n oupa duisend vir sy twee dogtertjies, sê Steve.

“Vir my was hy alles, my pa, my vriend en my wingman.”

Ds. Marius Barnard het sy boodskap op Jesaja 40:31, wat Steve gekies het, geskoei.

Dít lui: “Dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.”

Jean-Pierre, van Stellenbosch, het tydens die bedankings gesê mense wat al saam met sy pa uitgeëet het, sal weet hy was spesifiek oor by watter tafel en op watter stoel hy sit. “Toe ek weer die donderweer hoor, toe weet ek hy is in die hemel en hy is besig om sy tafel vir hom reg te kry,” het hy hartseer gesê.

  • Monique le Roux van Stellenbosch, wat nie die diens kon meemaak nie, het deur ’n stemopname wat in die kerk gespeel is, aan haar oom Hennie hulde gebring. ’n Gesamentlike gedenkdiens word môre om 11:00 vir Casper en Estelle Botha op die plaas Thyszendoorn, Rysmierbult, buite Ventersdorp, gehou.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.