Reën

Swaar reën word vir die volgende paar dae vir Bloemfontein voorspel.

Met die laagdrukstelsel wat die tropiese storm Eloise oor die binneland veroorsaak, kan oorstromings ook in Bloemfontein voorkom.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n impakgebeseerde waarskuwing (Vlak 4 vir ontwrigtende weerstoestande) van Woensdag (27/01) tot Vrydag (29/01) aangekondig.

Die waarskuwing is veral vir laagliggende dele, paaie en informele woonbuurte.

Die hewige reën wat voorspel word, kan lei tot baie water op paaie wat gevaarlike toestande vir bestuurders kan veroorsaak. Paaie kan verspoel en sigbaarheid kan min wees tydens ‘n hewige reënbui. Alle padgebruikers word dus gemaan om versigtig te bestuur tydens hewige reënbuie.

Bestuurders word versoek om:

Hul hoofligte aan te skakel;

Stadiger te ry;

en gevaarlike kruisings waar water oor die pad stroom, te vermy.

Mense wat in vloedwater in motors vasgekeer word, word aangeraai om uit die motor te klim en na hoogliggende dele te beweeg.

Voetgangers moet versigtig wees wanneer hulle strate oorsteek en word gemaan om nie deur water te loop wat dieper as enkeldiepte is nie.

Inwoners wat in laagliggende dele woon, moet toesien dat die water uit hul erwe kan vloei. Waar die moontlikheid bestaan dat water deur huise kan vloei bestaan, moet besittings geskuif word waar dit nie skade sal opdoen nie.

In noodgevalle kan die Mangaung-brandweer by 051 406 6666 of 051 409 9600 of die tolvrye nommer 107 geskakel word. Die noodnommer vir die ambulans is 10177.

You need to be Logged In to leave a comment.