Reën wat weer sedert Dinsdag (02/02) oor Bloemfontein val, het weer veroorsaak dat Fortstraat onder die duikweg naby die watertorings tydelik gesluit moes word.
Motoriste en padgebruikers word gemaan om alternatiewe roetes te gebruik. Die herhaalde sluiting van die duikweg is die gevolg van vandalisme van toerusting wat gebruik moet word om die kanaal te dreineer, veral tydens vloede in die omgewing.
Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê dit veroorsaak dat vloedwater nie uitgepomp kan word nie.
Hy sê die voortslepende reën vul ook slaggate en het padbouprojekte tot stilstand gedwing. “Die werk sal voortgaan sodra weertoestande dit toelaat.”
Die Suid-Afrikaanse weerdiens het ‘n vlak 2-waarskuwing uitgereik vir ontwrigtende reën met moontlike vloede in dele van die stad wat swak dreineer, laagliggende dele en informele nedersettings.
Khedama waarsku motoriste om versigtig te bestuur in Curielaan, James Dickstraat in Wilgehof, Wilcoksweg, Dr. Belcherweg, O.R Thambostraat, Fort Hareweg in Oranjesig, Ferreiraweg asook Memoriamweg.
Alle motoriste word gemaan om versigtig te bestuur, hul hoofligte aan te skakel as dit hard reën en gevaarlike rivierkruisings te vermy.
In noodgevalle kan die Mangaung-bradweer by 051 406 6666 of 051 409 9600 of tolvry by 107 geskakel word asook die ambulansdienste by 10177.