Francois Greyling met een van sy mooi handgemaakte messe.

Lientjie Mentz

Oral waar hy kom is hy op die uitkyk vir mooi stukke hout.

Messe- en pennemaker Francois Greyling stal Saterdag (05/03) die tweede keer sy pragtige handgemaakte produkte op die Franse Mark op Villa Avianto uit.

Francois, al die pad van Welkom, sê hy het aan ’n paar nuwe messe en penne gewerk sedert hy in Februarie die eerste keer sy mooi geskenke op die mark uitgestal het.

Dié afgetrede houtwerkonderwyser ken hout en weet hoe om ’n stuk hout te sny sodat hy die mooiste deel vir die mes gebruik.

“Ek koop graag houtknoetse wat vir tuine bedoel is. Ek kan sommer dadelik karakter in ’n stuk hout raaksien.”

Een van die nuutste messe wat hy gemaak het was van swart ivoorhout wat bo donker en onder lig is.

“ ’n Vriend van my het dié mooi hout vir my uit Namibië gebring.”

Francois sê hy doen al houtwerk sedert hy op laerskool was en het in 1998 begin messe maak.

“Ek het in 1999 begin om messe na Engeland uit te voer en vir ’n ruk lank het dié mark in Europa goed gewerk. Noudat ek afgetree is, sal ek moet kyk of ek dit weer kan doen.”

Van die besonderse messe wat Francois maak, is biltongmesse wat so gemaak word dat dit ’n dun stuk biltong seepglad afskil. Hy het ’n verskeidenheid messe wat jagmesse, vastelem-messe en knipmesse van verskillende groottes insluit.

Hy maak ook filtpenne en balpuntpenne.

“ ’n Filtpen skryf makliker as ander penne omdat jy nie so hard hoef te druk om in die ink uit te kry nie,” verduidelik hy.

“Dit is dus baie nuttig vir mense wat baie skryf of dokumente moet onderteken.”

Gaan loer Saterdag na Francois se stalletjie by die Franse Herfsmark terwyl jy ook die heerlike kos, mooi geskenke en ander stalletjies se ware besigtig.

You need to be Logged In to leave a comment.