Die onderwysers wat vereer is, is van links Hennie Botha, Anita Knoester, Nelmarie du Toit, Anita Chad en Marius Kriel (skoolhoof). Foto: Verskaf


Die Laerskool Fichardtpark is op 25 Februarie as die beste laerskool op akademiese gebied in die Motheodistrik aangewys, volgens die kriteria wat die onderwysdepartement gebruik.

Kwintiel 4- en kwintiel 5-skole het hiermee in aanmerking gekom vir erkenning.

Die Motheo-gelukwensings­geselligheid het by die Hoërskool Albert Moroka in Thaba Nchu plaasgevind. Dit is gereël om die prestasie van Motheo as die beste onderwysdistrik nasionaal, op akademiese gebied, te vier.

Die minister van onderwys, Angie Motshekga, die LUR vir onderwys in die Vrystaat, wyle dr. Tate Makgoe, asook distriksdirekteur December Moloi is van die hooggeplaastes wat dié geleentheid bygewoon het. Makgoe is Sondag (05/03) in ’n motorongeluk oorlede.

Fichies het ’n sertifikaat, ’n trofee, asook ’n kleurdrukker as beloning, ontvang.

“Ons kan met groot dankbaarheid sê dat die eerbewys die produk van goeie leierskap, deeglike beplanning, harde werk en toewyding is,” het Marius Kriel, skoolhoof, gesê.

“Fichies is ’n uitstekende voorbeeld van ’n skool waar al die betrokkenes – personeel, ouers en leerlinge – hande vat in die beste belang van ons kosbare leerlinge se toekoms.”

You need to be Logged In to leave a comment.