Die derde plek voel soos ’n goue medalje.
Só sê Bloemfontein se ster-atleet Louzanne Coetzee, wat op Maandag 2 September in die 1 500 m (T11) die bronsmedalje op die Paralimpiese Spele in Parys, Frankryk, gewen het.
Louzanne het ’n briljante wedloop gehad en saam met die eerste twee plekke die Paralimpiese rekord in die nommer verbeter.
“Dit was nie vir my ’n maklike jaar nie, fisiek en sielkundig,” het sy Dinsdag gesê.
“Ek is baie tevrede met my race. Waarvoor kan ’n mens meer vra as dat die eerste vier mense in jou wedloop persoonlike beste tye hardloop en dat die eerste drie die rekord verbeter? Ek kan nie glo ek ses sekondes op my PB verbeter nie.”
Sy het Sondag saam met gids Estean Badenhorst deurgedring na die eindronde van die wedloop.
Die Etiopiër Yayesh Gate Tesfaw en haar gids Kindu Sisay Girma het Maandag die wedloop gewen in ’n wêreldrekordtyd van 4:27.68.
Die deelnemer van China Shanshan He, was met ’n tyd van 4:32.82 tweede.
Louzanne en Estean het in die pylvak deurgebreek om ’n derde plek met ’n tyd van 4:35.49 in dié spannende wedloop te haal.
Nog ’n Vrystater wat die afgelope week deelgeneem het aan die Paralimpiese Spele, was Karabo Morapedi wat saam met sy Bloemfonteinse hellingoperateur, Vincent Ramochelo aan boccia deelgeneem het. Vincint is ’n algemene assistent by die Martie du Plessis-skool.
Marisa Potgieter, ’n arbeidsterapeut by Martie du Plessis, woon vanjaar haar eerste Paralimpiese Spele as lid van die bestuur van die boccia-span by. Dit was vanjaar die eerste keer dat dié sport op die Paralimpiese Spele aangebied word.
Nog ’n Bloemfonteiner op die Spele is Ernesta Strydom, ook ’n arbeidsterapeut by Martie du Plessis wat vanjaar haar vyfde spele as tegniese beampte bywoon.
Marisa sê die Suid-Afrikaanse boccia-span bestaande uit Karabo en Elanza Jordaan van die Wes-Kaap, het hul mededingers laat sweet tydens die individuele BC3-kompetisie. “Hulle het hulle opponente hard laat werk om hulle te wen.”
Karabo sê die spele was vir hom en sy spanmaats ’n wonderlike ervaring.
“Ek het so baie geleer by die Paralimpiese Spele. Dit was vir my ’n wonderlike ervaring.”
Louzanne neem op 8 September saam met haar gids Claus Kempen deel aan die marathon op vanjaar se spele.