’n Nasionale voëlskou word die volgende paar dae in Bloemfontein aangebied.

Die South African National Cage Bird Association (Sancba) wat sy oorsprong jare gelede in Bloemfontein gehad het, bied sy jaarlikse skou van Donderdag (13/07) tot Saterdag in die Violet-saal by die skouterrein.

Die voëls word Donderdag ingeskryf en Vrydag beoordeel.

Beoordelaars wat voëls in 24 verskillende klasse gaan beoordeel, kom van oor die land heen.

Besoekers aan die skou sal Donderdag van 16:00 tot 19:00 en Vrydag van 08:00 tot 16:00 na ’n wye verskeidenheid voëls soos budjies, vinke, kanaries en papegaaie kan gaan kyk.

Twee van die ou hande van voëlskoue in die land gaan vanjaar teenwoordig wees.

Fred Barnicoat gaan vanjaar aan sy 80ste skou deelneem. Hy skou al vandat hy ses jaar oud is. Graham Sagave (76), wat al skou vandat hy tien jaar oud is, is ook op vanjaar se skou met sy voëls.

Geraldene du Plessis van Sancba sê dié skou word gewoonlik om die beurt op verskillende plekke oor die land heen aangebied, maar omdat Bloemfontein so sentraal is, is dit verlede jaar ook hier gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.