Saterdag gaan ’n bedrywige dag wees by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, waar die #Weesdieverskil-fees van 09:00 af gehou word.
Dit word deur die ATKV-tak Gemeenskapsteater aangebied.
Hope pret wag, met ’n skattejag, ’n kindertoneelstuk, ritmegroepe wat optree, ’n teaterstuk uit die pen van Maretha Maartens en nostalgie met Afrikaanse musiek.
Benewens die vol program is daar kosstalletjies, ’n kunsmark en speelplek vir kinders.
Die SANBS gaan daar wees om feesgangers wat wil bloed skenk die kans te gee om dit te doen; feesgangers kan ook ’n gratis oogondersoek deur ’n oogkundige laat doen.
Die ritmegroep van die Laerskool Willem Postma, die Tjokkies-ritmegroep, Eduplus se perkussiegroep en dansers van The Dance Connection tree almal net ná 11:00 op.
Die kindertoneelstuk Dinosourusse kan nie lees nie begin om 10:00, met Die Indringerwat om 11:30 in die amfiteater te sien sal wees.
Die aankondiging van die skattejagwenners is om 12:30, en die musiekvertoning van Afrikaanse gunstelinge begin om 13:00.
Toegang kos R20 vir volwassenes, R10 vir leerlinge, en voorskoolse kinders kry gratis toegang.
Geld word vir die Vrystaat-nasorgsentrum en die Lettie Fouché-skool ingesamel.