’n Aangrypende video van drie van die Martie du Plessis-skool se leerlinge wat bo hul uitdagings uitgestyg het, het gaste meegevoer op dié skool se 18de Aand van die Sterre-geleentheid, wat op 22 September aangebied is
Soos elke keer dat die aand aangebied is, is geld ingesamel vir ’n spesiale projek om meer geleenthede vir leerlinge te skep.
Francois van Heerden, hoof, sê vanjaar wil hulle graag in elk van die 53 klaskamers by die skool ’n dataprojektor aanbring.
Martie du Plessis bied onderrig aan leerlinge van gr. R tot matriek met fisieke gestremdhede of leeruitdagings.
Die gaskunstenaar op die aand was Demi Lee Moore, en die gasspreker Alwyn Uys.
Uys, ’n voormalige rugbyspeler wat meer as 80 wedstryde vir Maties gespeel het, was in 2014 in ’n ernstige motorongeluk wat sy lewe onherroeplik verander het.
“Kort voor die ongeluk het ek gedink: My grootste vrees is om in ’n rolstoel te beland,” het hy die aand vertel.
As ’n aanvanklike hindernis op sy lewenspad, ’n geruime tyd voor die ongeluk, het ’n terugslag hom op 21 getref toe hy gediagnoseer is met ’n soort kolitis, wat seertjies in sy dikderm veroorsaak. Hy moes talle operasies ondergaan en kon ses maande lank geen sport beoefen nie.
Uiteindelik het hy weer begin rugby speel, en in sy laaste wedstryd vir Maties het hy geval en sy skouer en spiere van die been afgeskeur. Weer is hy geopereer. Dit was die einde van sy rugbyloopbaan.
Kort hierna was hy eendag van St. Francisbaai na Kirkwood op pad toe ’n motorongeluk plaasvind. Binne ’n oogwink het sy lewe dramaties verander.
Hy sê as dit nie vir ’n man langs die pad was nie, sou hy nie vandag geleef het nie. Die man met die naam Hosea het hom na veiligheid gebring.
“Toe ek die volgende oggend ná die ongeluk wakker word en niks van my bors ondertoe kon beweeg nie, het ek gedink dit is ’n slegte droom.”
Dit is hier waar Alwyn se reis begin het. ’n Lang proses van rehabilitasie het gevolg.
“Ek het begin veg om normaal te wees. Daar het ’n oomblik gekom dat ek myself weer toegelaat het om te droom.”
Voor sy ongeluk het hy en vriende eendag na deelnemers van die ysterman-kompetisie gekyk en gedink die mense is verspot om só ’n uitmergelende uitdaging aan te pak.
“Min het ek gedink dat ek dit eendag self sou doen – as ’n parapleeg.”
Hy was die eerste parapleeg om dié moordende driekamp-uitdaging te voltooi.
Dit is nie net hier waar sy deursettingsvermoë en uithouvermoë beproef is nie.
Hy was ook die eerste parapleeg om die ikoniese 8 km-swemuitdaging van Robbeneiland na Bloubergstrand te voltooi.
“Dit was baie moeiliker as wat ek gedink het,” sê hy.
“Ek het nie gedink dit is so moeilik om ’n piesang te skil en te eet terwyl ek met my arms probeer dryf nie.”
Alwyn sê dit is eers wanneer dinge baie moeilik is, dat jy leer wie jy regtig is.
“Ek dink ek het vandag selfs ’n voller lewe as voor my ongeluk,” sê hy.