Ouma Lettie Wilken het onlangs haar 100ste verjaardag gevier. Sy het jare lank in Bloemfontein gewoon.Foto: Verskaf


’n Oud-Bloemfonteiner, bekend vir haar lekker beskuit, het op 14 Maart haar 100ste verjaardag in Johannesburg gevier.

Ouma Lettie Wilken (née Upton) se familie en vriende het haar in die Queenshaven-tehuis vir bejaardes verras om dié groot dag te gedenk.

“Ons was baie gelukkig en bly om die dag saam met Ouma Lettie te deel,” het Hugo, haar seun, aan Bloemnuus geskryf.

“Ons kon baie stories oor gister uitruil.”

Ouma Lettie is in 1922 op ’n plaas in die Dordrecht-omgewing gebore. Sy was die ousus van vyf broers en vyf susters. Een van haar boeties is doodgebore, en een van haar sussies is op 15 maande oorlede.

Ouma Lettie het haar skoolloopbaan in Dordrecht en Zastron voltooi.

Hoewel sy ’n verpleegster wou word, is dié droom nooit verwesenlik nie. Sy het as ’n huishoudster begin werk, en haar later by die Moedersbond-hospitaal in Pretoria aangesluit.

In dié stad het sy haar eerste man, Mighal van Rooyen, by ’n kerkgeselligheid ontmoet. Hulle is in 1943 getroud, en later met twee seuns, Ivan en Neels, geseën. Neels is in 2015 ná ’n operasie oorlede.

Ná hul egskeiding in 1952 het sy na Bloemfontein verhuis, waar sy Hugo Wilken in 1955 ontmoet het. Sy word toe ma vir sy drie kinders, Hugo, Johan en Mariana. Laasgenoemde is in 2006 ná ’n ernstige motorongeluk oorlede.

Ouma Lettie moes ook al ’n skoondogter en twee kleinkinders aan die dood afstaan.

Ná Oupa Wilken se dood in 1972 het sy haar pensioen aangevul deur haar gebak te verkoop.

Volgens Hugo was sy in die Bloemfontein-omgewing veral bekend vir haar beskuit.

“Mense het van heinde en ver bestellings geplaas.”

Sy het met die bak volgehou totdat sy ongeveer 90 jaar oud was.

“Sy het baie jare alleen in haar huis in Wilgehof gebly totdat sy op 95 na Alberton verhuis het om by Johan en sy vrou Hester te gaan woon,” sê Hugo.

“In Oktober 2021 het sy na die Queenshaven-tehuis geskuif.”

Vandag is Ouma Lettie die trotse ouma van 14 kleinkinders en 23 agterkleinkinders – om nie eens van al die aangetroudes te praat nie.

“Dit is voorwaar ’n besondere seën van die Here,” sê Hugo.

“Ons glo dat Ouma Lettie deur ’n opregte lewe, goeie gesondheid en die Here se genade – en met baie gebed – die mylpaal van 100 jaar behaal het. Sy bly voorwaar ’n voorbeeld vir almal van ons.”

You need to be Logged In to leave a comment.