’n Man van Botshabelo is effektief 15 jaar tronkstraf opgelê nadat hy sy meisie vermoor het.
Regter Soma Naidoo het Sello Peter Motlane (34) in die hooggeregshof in Bloemfontein weens die moord op Joyce Lindiwe Motseki (27) gevonnis.
Motseki is op 1 Januarie verlede jaar in Section D, Botshabelo, vermoor, sê sers. Martin Xuma, polisiewoordvoerder, in ’n verklaring.
Volgens Xuma het ’n rusie tussen die paartjie uitgebreek, waarna Motseki na haar vriendin se huis gevlug het.
Motlane het haar agternagesit.
Daarna het Motseki besluit om na ’n ander vriendin se huis in Section L te vlug.
Motlane het Motseki op die dag van die moord omstreeks 18:00 by dié vriendin se woonplek opgespoor, sê Xuma.
Motseki het probeer vlug, maar geval, waarna Motlane haar geslaan en geskop het terwyl sy op die grond gelê het.
Die polisie is deur gemeenskapslede ontbied en polisielede en paramedici was vinnig op die toneel.
Motseki is na ’n hospitaal geneem, maar sy is vyf dae ná die aanval weens kopbeserings dood.
Motlane is ’n dag ná die aanval aangekeer.