Die Voorslag-Voortrekkers het ’n bedrywige week agter die rug, met twee geleenthede wat deur dié kommando aangebied is.
Die kommando met Voortrekkers van die Hoërskool Jim Fouché, die Hoër Meisieskool Oranje, Eunice High School en Grey-kollege, sowel as leerlinge wat tuisonderrig ontvang, is nou die grootste verkenner-kommando in die land.
Dié Voortrekkers het op ’n glansgeleentheid op 9 Augustus Die Voortrekkers se nuut verkose hoofleier, dr. Karin Stoffberg, onthaal en volwasse lede vir hul harde werk bedank.
Stoffberg het op die geleentheid gesê lede van die Voorslag-Voortrekkerkommado het van 2019 tot 2023, en veral in die tyd van die pandemie, die meeste aanlyn kentekens in die land verwerf.
Die kommando bestaan uit 132 verkenners en 28 volwasse lede. Voorslag het vanjaar 23 Presidentsverkenners, waarvan 17 leerlinge van Jim Fouché is, opgelewer.
Die hele kommando se Voortrekkers het Maandag (14/08) by Jim Fouché deelgeneem aan die Proe-aand as geldinsameling vir die kommando. Gaste kon aan sowat 100 verskillende geregte proe.
Bertie Eimer, kommandoleier van die Voorslag-Voortrekkers, sê dit was die 11de keer dat dié Proe-aand aangebied is.