Die hoofrioolpypleiding van Gardeniapark en Wilgehof wat strek verby Walter Sisuluweg in Willows met die kruising by Victoriaweg, skep nou al die afgelope vyf jaar gereeld probleme.
DA-raadslid Tjaart van der Walt sê dié pypleiding het vroeër vanjaar weer ernstig begin lek.
’n Kontrakteur het aan die pypleiding begin werk, maar die gedeelte rondom die pyp moes eers dreineer word sodat die probleem opgespoor kan word.
Riool het vroeër hier, oor die verkeerseiland en in Victoriaweg gestroom, maar die munisipale werkers het intussen die mangate in Victoriaweg skoongemaak om die meeste van die rioolwater te laat wegvloei.
Dié oop rioollekplek staan nou al weke lank so.
Wallace McLeod, waarnemende departementshoof van die Mangaung-metro se ingenieurswerke, het Dinsdag (12/07) aan Bloemnuusgesê dat dié rioollekplek by die verkeerskruising vir die metro ’n voorkeursaak is.
“Daar is skade aan die infrastruktuur en daar moet saamgewerk word met ander partye om herstelwerk moontlik te maak. Dit sluit herstel van elektrisiteit- en veselkabels in.”
“Ons werk hard aan die probleem om dit teen die einde van die week te herstel,” het hy Dinsdag gesê.