’n Bekende in Voortrekkerkringe, oom Josias Swanepoel, (88) is vanoggend in die Life Rosepark-hospitaal oorlede.
Sy dogter Marisa Venter sê hy het op 23 Januarie ’n beroerte gehad en het geleidelik agteruit gegaan.
Oom Josias was vir meer as 75 jaar lid van Die Voortrekkers in die Vrystaat en het diep spore in die beweging getrap.
Deur die jare was hy betrokke by die President Brand-, JBM Hertzog- en die Werk-en-Wen-kommando’s.
Oor die jare het hy op talle gebiedskomitees gedien en hy was by talle gebiedskampe betrokke.
Jare gelede, toe Die Voortrekkers se hoofkantoor in Bloemfontein was, het hy op die terrein gebly.
Hy het die Hoofleierswag-eerbewys se kenteken, wat vandag nog toegeken word, ontwerp.
Hy het van Die Voortrekkers ’n Dekorasie vir Buitengewone Diens ontvang wat hy by ’n spesiale geselligheid by die Werk-en-Wen Voortrekkers ontvang het.
Willie Engelbrecht, gebiedsleier van Die Voortrekkers in die Vrystaat, sê oom Josias het graag sy kennis gedeel en vir jong leiers as mentor gedien.
“Hy was ’n Voortrekker in murg en been en was baie lief vir die beweging. Ons eer sy nagedagtenis as ’n ware Voortrekker.”
Hy laat sy vrou, Marietjie, nog ’n dogter Ranelda Bergh sowel as vier kleinkinders Jan Venter, Josias Venter, Marietjie Glas en Cobus Bergh. Die egpaar se seun, Josias, is oorlede.