Op Sondag (02/10) se eerbewysgeselligheid is van links Danie Langer (hoofleier van die Voortrekkers). Corlia Botha en Rensché van Wyk.

‘n Eietydse heldin is die afgelope week tydens die laerskoolkampe van die Vrystaatse Voortrekkers op Doornkloof vereer.

Só het die hoofleier van Die Voortrekkers, Danie Langer, Sondag (02/10) gesê nadat Rensché van Wyk van Bethlehem ’n Reddingsboei-eretoekenning op ’n geselligheid ontvang het.

Van Wyk, kampleier van die gr. 5-kamp op Doornkloof, het in Februarie saam met onderwysers en koorlede van die Hoërskool Witteberg gekamp toe vloedwater deur Doornkloof gestroom het.

Rensché is deur die hoofbestuur van Die Voortrekkers vereer vir haar dapperheid om die kinders tydens dié vloed veilig te hou.

Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaat, het op die geleentheid gesê die eerbewys aan Rensché is die enigste manier waarop hulle regtig kan dankie sê vir wat sy gedoen het.

Nog eerbewyse is op Sondag se kerkparade in die amfiteater oorhandig. Corlia Botha het ’n spesiale Hoofleiers­eerbewys ontvang vir 55 jaar as lid van die Voortrekkers en 30 jaar waarin sy as kampleier opgetree het. Sy tree nou uit as kampleier by die gr. 7-kamp, maar sê sy gaan steeds daar kamp.

Die vorige gebiedsleier van die Vrystaat Samuel Brayshaw (2009 tot 2017) het postuum ’n erelidmaatskap van Die Voortrekkers ontvang.

Dit is deur sy vrou, Ingrid, hul dogter, Riëtte, en hul seun, Nico, in ontvangs geneem.

Chris Ackerman, sy vrou, Corlie, en hul seun, Chris (6), is amptelik as nuwe plaasbestuurspaar van Doornkloof verwelkom.

Heel links: Voortrekkers wat op Doornkamp gekamp het is hier van links, voor: Nicisha Slabbert (Martie du Plessis), Lohané Nagel (Laerskool Fichardtpark) en Lentha Rabasothoao (Laerskool Universitas); agter: Lehan Oosthuizen, Fredrich Grobbelaar en Magdeleen van Wyk (almal van die Laerskool Fichardtpark). Foto’s: Lientjie Mentz

Daar was vanjaar 494 leerlinge en 126 volwassenes en meelopers op die kamp wat van Saterdag (01/10) tot Woensdag aangebied is.

Die gr. 4-leerlinge het op Doornkamp by Vlagsaal gekampeer, die gr. 5-leerlinge op Kamp Klitsgras, die gr. 6-leerlinge het Kamp Murgpyp op die Piet Geyer-terrein bygewoon en die gr. 7-leerlinge het hul laaste laerskoolkamp op Avontuurkamp (op Suiderkruis) beleef.

Die gr. 4-Voortrekkers wat hul eerste Doornkloofkamp beleef het, het meer geleer oor noodhulp en kultuurgeskiedenis.

Op Kamp Klitsgras werk die Voortrekkers aan die weerkenteken en die kenteken oor varswater­diere.

’n Week lank het die gr. 6-leerlinge speletjies gespeel soos kleilat gooi, kettieskiet en jukskei en uitgesien na die groot Operasie Murgpyp.

Lizma Wandrag en Lanri Labuschagne van die Laerskool Jordania in Bethlehem, albei in gr. 7, het gesê Operasie Suiderkruis, wat dié Voortrekkers Dinsdag gedoen het, was vir hulle die lekkerste. “Ons moes net baie vroeg opstaan – al om 04:30.”

Die gr. 7’s het op ’n roetebaan deur Doornkloof beweeg waar hulle op sekere punte speletjies gespeel het. Hulle bou hul eie skuilings waarin hulle vir die duur van die kamp slaap en leer oor bewaring en veldbewustheid.

“Dit was vanjaar ’n lekker kamp ná twee jaar se ontwrigtings, weens Covid-19,” het Engelbrecht gesê.

Heel links: Voortrekkers wat op Doornkamp gekamp het is hier van links, voor: Nicisha Slabbert (Martie du Plessis), Lohané Nagel (Laerskool Fichardtpark) en Lentha Rabasothoao (Laerskool Universitas); agter: Lehan Oosthuizen, Fredrich Grobbelaar en Magdeleen van Wyk (almal van die Laerskool Fichardtpark). Foto’s: Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.