Nie die ysige koue, of ’n veldbrand wat onlangs skade op Doornkloof aangerig het, het die 640 Voortrekkers wat die jaarlikse laerskoolkampe bygewoon het se geesdrif gedemp nie.
Willie Engelbrecht, gebiedsleier van die Vrystaatse Voortrekkers, sê vanjaar se kamp van 21 tot 25 September het mooi geloop, al was dit bibberkoud die naweek.
“Daar was Saterdag selfs sneeuvlokkies op Doornkloof.”
Een van die hoogtepunte op Sondag se kerkdiens was die toekenning van erelidmaatskap aan die Bloemfonteiner Gerda Engelbrecht (73). Sy is ongeveer 40 jaar by die beweging betrokke en kamp nog gereeld saam met haar seun, Willie, op Doornkloof.
Annemie Bosman, adjunk-gebiedsleier vir Penkop- en Drawwertjiesake, sê Gerda se liefde vir Die Voortrekkers is altyd sigbaar en sy is ’n ware ambassadeur vir die beweging.
Op die geleentheid Sondag is 85 jaar van Voortrekkerwees gevier.
Engelbrecht sê die res van die kampe vir gr. 4- tot gr. 7-leerlinge het goed verloop.
“Daar was net ’n bietjie uitdagings op Suiderkruis, wat onlangs in die veldbrand beskadig is, en daar was nie krag nie. Ons het kragopwekkers gebruik. Anders het dit goed gegaan en die kinders het dit baie geniet.”