Die kruising waar die M30 en die N6 kruis en waar boere bekommerd is dat verkeer en ander probleme sal toeneem indien ‘n beplande ontwikkeling van duisende huise hier voortgaan.

Lientjie Mentz

Boere in die Koppieskraal-omgewing tussen die N6 en die R702 (Dewetsdorp-pad) is bekommerd oor die ongeveer 4 000 huise wat vir die nuwe deel van Hillside View langs die N6 beplan word.

Sowat 50% van dié huise sal laekostebehuising wees.

Die Koppieskraal-landbou­vereniging het Dinsdag (24/05) ’n vergadering op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Paradys-proefplaas gehou sodat ’n petisie opgestel kan word om ’n stokkie voor dié ontwikkeling te probeer steek.

Leon Richter, voorsitter van die vereniging, sê die informele nedersettings wat die afgelope maande suid van die M30 ontwikkel het, skep reeds probleme.

Dit is hier oorkant die proefplaas waar beplanning gedoen word om die huise op sowat 300 ha te ontwikkel.

Richter sê hulle het uitgewerk die nuwe ontwikkeling kan ’n bykomende 10 000 inwoners in die omgewing beteken. Daar is nie voldoende infrastruktuur nie.

“Boere in die Koppieskraal-omgewing, en tot so ver soos Tierpoort en Ferreira, ly reeds daaronder dat te veel mense hier in die omgewing bly en die rioolaanleg nie behoorlik werk nie,” sê hy.

“Diere van inwoners wat los loop, word elke week by die M30-N6-kruising (Reddersburg-pad) raakgery.”

Richter sê die beplande ontwikkeling gaan verder stremming plaas op almal wat die Reddersburg-pad gebruik en gaan die gevaarlike situasie vererger.

“Ons besware behels onder meer besoedeling, ’n tekort aan infrastruktuur, ’n toename in verkeer en kommer oor misdaad wat kan toeneem.”

Richter sê die nuwe begraafplaas wat die Mangaung-metro sowat vier jaar gelede hier ingerig het en wat nie in gebruik word nie, skep ook ’n ernstige brandgevaar omdat dit omhein is en niemand toegang tot die sowat 140 ha het nie.

“As hier ’n brand ontstaan, kan die veld daarnaas vinnig brand – met die bykomende kommer dat die brandweer nie betyds toegang tot die perseel kan kry nie omdat dit eers oopgesluit moet word.”

’n Ander groot bron van kommer onder landbouers hier, is die rioolaanleg wat ontwikkel is en volgens hulle nie behoorlik onderhou word nie.

Johan Barnard van die UV se proefplaas sê grondwater-toetse toon daar is beslis besmetting.

Hy sê die sluis van die dam by die rioolaanleg werk nie behoorlik nie, en die vloedwater weens die hewige reën die afgelope tyd het rioolwater tot in Ferreira laat vloei.

“Rioolbesmetting hier by en om die proefplaas maak boerdery baie moeilik. Dit skep ook vir boere in die omgewing groot onsekerheid van inkomste omdat vee siek word.”

Onkostes moet aangegaan word om diere op die proefplaas gesond te hou.

Barnard sê sowat twee tot drie ongelukke ’n week vind weens losloper-vee by die Reddersburg-kruising plaas.

Die vereniging wil nou handtekeninge van al die lede en hul gades, asook huurders en ander inwoners in die Koppies­kraal-omgewing kry om beswaar teen die voorgestelde ontwikkeling in te dien.

Mense wat besware het, kan dit doen deur hul insette tot die impakstudie te voeg. Dit kan gedoen word deur voor 31 Mei ’n e-pos na jacolette@exigent.co.za te stuur met ’n spesifieke lys van besware voortspruitend uit die ontwikkeling wat die inwoners kan raak.

You need to be Logged In to leave a comment.