Vrae oor vermiste beeld

Vrae het ontstaan nadat ’n bronsbeeld van Sand du Plessis, wat voor die Sand du Plessis-teater was, by ’n skroothandelaar beland het.


Talle vrae het ontstaan nadat ’n bronsbeeld van ’n destydse administrateur van die Vrystaat, Sand du Plessis, wat voor die Sand du Plessis-teater gestaan het, by ’n skroothandelaar beland het.

Dr. Johan van Zÿl van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke het navrae van ’n lid van die publiek gekry om uit te vind of hy weet van wie die beeld is en waar dit vandaan kom.

“Dit is Sand du Plessis wat voor die teater gestaan het,” het hy Dinsdag (11/10) aan Bloemnuus bevestig.

“Ek herken hom aan die welige wenkbroue.”

Van Zÿl sê hy het ’n uitgebreide kennis van die stad se standbeelde.

“Ek ry baie daar verby en wonder of die standbeeld nog daar is.”

Die beeld was op ’n voetstuk agter ’n muur met die teater se naam op in Markgraaffstraat.

“Die beeld is jare gelede by die teater opgerig, en ek het iewers foto’s van die onthulling gesien,” sê Van Zÿl.

Die Sand du Plessis-teater, wat na die voormalige administrateur vernoem is, is in 1985 geopen en huisves die kantore van Pacofs. Adri van Veijeren van Pacofs sê die bateregister van alles in die tuine is by die departement openbare werke.

“Ons wil die teaterterrein omhein om die tuin en teater veiliger te maak,” sê sy.

George Smith het Dinsdag aan Bloemnuusgesê hy het op ’n veiligheidsgroep gesien dat die beeld gesteel is en hy het by die Oorlogsmuseum daaroor navraag gedoen.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.