Vrae val op Mangaung-metro se dowe ore

Dit is nie net die publiek wat hande in die hare sit omdat hulle min tot geen kommunikasie vanaf die Mangaung-metro kry nie.


Talle vrae wat raadslede in die Mangaung-metro gevra het, is ná jare steeds onbeantwoord en moet nou weer ingedien word.Foto: Lientjie Mentz

Dit is nie net die publiek wat hande in die hare sit omdat hulle min tot geen kommunikasie vanaf die Mangaung-metro kry nie.

As dit nie vir WhatsApp-groepe en politieke partye is nie, sal niemand weet wanneer en waarom goed in die metro gebeur – of meer dikwels, nie gebeur nie.

Raadslede in die Mangaung-metro rig Reël 38-vrae aan die burgemeester en toepaslike amptenare oor verskillende sake om duidelikheid te kry wat, wanneer dit betyds ingedien is, op die daaropvolgende raadsvergadering beantwoord moet word.

In die raadsvergadering wat op Vrydag 31 Januarie gehou is, het die uitvoerende burgemeester Gregory Nthatisi gesê dié vrae word gereeld geantwoord, waarop talle raadslede gesê het dat hul vrae nooit beantwoord word nie.

Die VF Plus het 22 vrae wat uitstaande is waarvan die een terugdateer tot Maart 2022. Dit sluit vrae in oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe van gebreekte watermeters en onwettige elektrisiteitsverbindings tot die hoeveelheid bou-inspekteurs in die stad en hoe lank dit neem om bouplanne goed te keur of af te keur.

Hierdie 22 vrae is nog nie een geantwoord nie.

Gopolang Lipale, koukusleier van die EFF in die Mangaung-metro, sê hulle is baie gefrustreerd met die tekort aan kommunikasie vanaf die metro.

Die VF Plus het 22 vrae wat uitstaande is waarvan die een terugdateer tot Maart 2022. Dit sluit vrae in oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe van gebreekte watermeters en onwettige elektrisiteitsverbindings tot die hoeveelheid bou-inspekteurs in die stad en hoe lank dit neem om bouplanne goed te keur of af te keur.

Lipale sê die EFF het 12 uitstaande Reël 38 vrae waarvan die oudste een terugdateer na Junie verlede jaar. Daar is ook sowat vyf of ses mosies wat die EFF ingedien het, wat ook nog nie in die raadsvergaderings aangebied is nie.

“Die burgemeester beantwoord nie die vrae wat ons vra nie. Dit maak ’n mens moedeloos. Ek is nie sy vriend nie, as ek bel is dit nie oor ditjies en datjies te praat nie, maar om sake van belang te bespreek.”

Hy sê EFF-raadslede sukkel net so om burgermeester-komiteelede en departementshoofde in die hande te kry. “Ons kan nie afsprake maak nie, want hulle antwoord nie as ons bel nie.”

Ook die DA het vir 2022 en 2023 21 vrae wat uitstaande is en daar is 17 vrae van verlede jaar wat nog beantwoord moet word.

Verder is daar vanjaar al vyf Reël 38-vrae deur die DA ingehandig.

Hardie Viviers, die DA se koukusleier sê al die vrae waarvan sommige sover terugdateer as 2017, gaan nou weer ingedien word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.