Die grusame dubbelmoord op ’n gesiene Vrystaatse boer en sy vrou oor die naweek het boere in die omgewing woedend en vreesbevange gelaat.
Die erg verminkte lyke van die Morrison-egpaar, Christo (73) en Christa (73), is ontdek in putte op hul plaas Rietfontein by Glen, sowat 25 km noordoos van Bloemfontein. Die aanvallers het in die egpaar se Toyota Land Cruiser gevlug en die voertuig in Majwemasweu, ’n township in Winnie Mandela (Brandfort), gelos.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het gister bevestig dat ’n polisietaakspan aangestel is om die moorde te ondersoek.
Dr. Jane Buys, risiko-ontleder van Vrystaat Landbou, sê luidens haar statistieke was daar van 1990 tot 2019 meer as 40 dubbele plaasmoorde in die Vrystaat en Noord-Kaap.
Hierby was daar nog massamoorde by onder meer Kestell, waar vyf plaaswerkers, ’n boer se vrou en haar seun op die plaas Lismore in die plaashuis oorval en vermoor is. Buys sê uit die statistieke blyk dit nie dat plaasmoorde in die aanloop na ’n verkiesing toeneem nie. Dit lyk eerder asof daar minder plaasmoorde in die jaar voor die verkiesing voorkom omdat daar meer beheer is.
Dit is min troos vir die boere in die omgewing.
“Die volgende wat gaan gebeur, is dat ek ook vermoor word op my plaas waar ons nou vyf geslagte boer. Ek kan nie vandag meer nugter dink ná wat hier gebeur het nie, maar voel die donder in,” het ’n boer gesê.
“Hier gaan hongersnood in die land ná die verkiesing uitbreek. Ek hang wat hier gebeur het om die regering se nek.”
Wyle Christo was op sy dag ’n hoofdirekteur by Absa en daarna ’n hoofdirekteur by die Sentraal-Wes-koöperasie (Senwes). Die egpaar se seun, Melt, is by sy ouers se huis in Bloemfontein, en sy suster, Dia, het reeds van Kaapstad aangekom. Melt het nie kans gesien om die media te woord te staan nie. “Ons het mense wat met die media praat. Ons sal julle laat weet.”
Na verneem word, besit die Morrison-egpaar ook grond by Petrus Steyn en in die omgewing van Reitz.
Neil de Klerk, die VKB-groep se streekdirekteur vir GWK en uitvoerende hoof vir bemarking en kommunikasie, sê: “Christo Morrison het tot in die vroeë jare 2000 by VKB gewerk as die hoof van finansiering. Ons het met skok en hartseer van die voorval verneem.
“Ons wil ons innige meegevoel uitspreek met die familie en vriende van oom Christo en tannie Christa en dra hul naasbestaandes in ons gebede op.”