Sy het haarself hier kom herontdek, en deel haar nuutgevonde passie met vriende en ook vreemdes wat vriende word.
Andriette Snyman-Marais se lewe op ’n plaas by Kroonstad het in 2011 dramaties verander toe haar man, Danie, met kanker gediagnoseer is en kort daarna oorlede is. Sy en haar kinders het na Bloemfontein verhuis.
“Kort nadat my man oorlede is, het ek op die stoep van my nuwe spierwit huis in Langenhovenpark gesit. Ek onthou hoe my trane op die leë erf agter my huis geval het.”
Sy vertel die Here het haar van die stoep opgetel en geleidelik is sy omring met engele wat oor haar pad gekom het. Sy het by agt organisasies betrokke geraak en nuwe mense ontmoet wat mettertyd vriende geraak het. Sy het ook haar nuwe man, Gert Marais, ontmoet.
“Met die inperking in 2020 het ek begin om al die engele wat so oor my pad kom, in kunswerke te verewig. Ek wou dit aanvanklik verkoop, maar nou maak ek my kunswerke vir myself en versier die huis daarmee.”
Die spierwit tuin wat sy aanvanklik agter haar wit huis aangelê het, het ook mettertyd in ’n helderkleurige pragtuin ontwikkel.
“Ek het weer met ywer begin bak en my vriendinne genooi om by my te kom kuier op my verjaardag. Dan het ek hulle behoorlik bederf.”
Sy gebruik resepte van haar ma, Anna, wat ’n voorslag-bakker was.
“Ek neem die tradisionele geregte wat sy gemaak het en voeg my kreatiwiteit by.”
Sy bak en versier alles self. Intus- sen het dié bederfsessies in ’n klein onderneming, Secret Garden, ontwikkel waardeur sy klein gesellighede in haar tuin aanbied.
“Ek laat net een groep mense op ’n slag hier by my toe, want elkeen moet voel hy word behoorlik bederf. Ek wil hê mense moet spesiale herinneringe van hul vieringe hier hê.”
Sy bak in oormaat en vra mense om blikke saam te bring om die oorskiet saam te neem huis toe.
“Ek skeep niks af nie. Ek gebruik my ouma se silwerware en mooi koppies.”
Sy het die afgelope jaar versierings in alle kleure gemaak, want sy glo dat ’n tafel mooi moet lyk. So het sy teestelletjies in verskillende kleure geverf en versier.
Andriette sê sy kry meestal haar kliënte van vorige kliënte wat hier ’n geselligheid bygewoon het.
“My hart is so vol oor al die seëninge wat ek ontvang dat ek dit net met ander moet deel.
“Ek deel met almal Hebreërs 13:2. Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit weet, engele as gaste gehuisves.”
Sy sê mense wat hier kuier, maak haar gees vol.