Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin en ’n dierkundige aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het hierdie foto op 7 Augustus geneem van die twee kameelperdbulle wat mekaar met die kop stamp. Foto: Andri Grobbelaar


Daar is hopelik lig in die tonnel ná die dood van Naval Hill in Bloemfontein se kameelperdbulle nadat hulle waarskynlik albei in ’n bakleiery dood is.

BloemNuus het verlede week Dinsdag berig dat Bulperd op Sondag 7 September dood gekry is in die Franklin-natuurreservaat op Naval Hill. Hy was 17 jaar oud.

Andri Grobbelaar, ’n dierkundige en voorsitter van die Vriende van Franklin, sê nadat die ouer kameelperdbul, wat as Bulperd bekend gestaan het, dié Sondag dood is, het personeel van die reservaat later verlede week ontdek dat die jong bulletjie, Paseka (5), ook dood is.

’n Groep CityRun-deelnemers het Saterdag om 06:30, voor die weeklikse wedloop op Naval Hill om 07:00, van Bulperd afskeid geneem.

Andri Grobbelaar gesels Saterdag voor die CityRun-wedloop met deelnemers wat harseer is oor die dood van die kameelperd Bulperd. Dié kameelperd spog selfs op die T-hemp wat deelnemers 100ste CityRun vier. Foto: Lientjie Mentz

Ingrid Steyn en haar groep vriendinne wat hulself die Girelfies noem, het die geleentheid gereël waarop Grobbelaar meer oor die kameelperde op Naval Hill gesels het. Ingrid sê hulle is baie hartseer oor die groot kameelperd se dood.

“Ons het mekaar uitgedaag om Saterdae ’n selfie saam met Bulperd te neem. Ons by CityRun is so lief vir dié kameelperd dat hy op ons pienk CityRun-hemp pryk.”

Deelnemers kry so ’n hemp wanneer hulle hul 100ste CityRun-wedloop voltooi.

CityRunners het met Saterdag se gedenkgeleentheid sowat R1 700 bygedra waarmee kos vir die diere van die Franklin-natuurreservaat gekoop kan word. Daar is nou groot bale voer vir die grasvreters op Naval Hill, wat help totdat dit reën en nuwe weiding groei.

Grobbelaar sê personeel van die Mangaung-metro het die oorskot van Paseka gekry met tekens dat hy in ’n bakleiery was. Die vermoede is dat hy en Bulperd baklei het en hy op die toneel dood is, terwyl Bulperd eers ’n paar dae later dood is.

Prof. Francois Deacon van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement veekunde, ’n kenner van kameelperde, sê dit is skaars dat kameelperde tot die toe dood toe baklei.

“Dit is baie hartseer, maar dit is deel van die natuur dat kameelperde baklei.”

Andri Grobbelaar, voorsitter van die Vriende van Franklin en ’n dierkundige aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het hierdie foto op 7 Augustus geneem van die twee kameelperdbulle wat mekaar met die kop stamp. Foto: Andri Grobbelaar

Hy sê dit is hoogs waarskynlik dat een of albei van die twee kameelperdkoeie wat twee jaar gelede in die reservaat gevestig is, gedek is.

“Ek het die groot bul oor een van die jong koeie sien waak. Koeie is net ’n kort tydjie op hitte, en as ’n bul so naby haar bly, is die kanse goed dat hy haar in dié tyd gedek het.”

Deacon sê kameelperdkoeie is 15 maande lank dragtig, en hulle is hoopvol dat daar oor tien tot 12 maande een of selfs twee kalfies op Naval Hill gebore kan word.

Deacon sê hulle het onlangs ’n sonar van die jongste kameelperdkoei Zuri – wat probleme met een van haar hoewe gehad het – se baarmoeder geneem. Sy was gereed om gedek te word.

“In die 15 jaar dat ek navorsing oor kameelperde doen, is dit slegs die tweede keer dat ek hoor van kameelperde wat in so ’n kopgeveg doodgaan. Dit gebeur waarskynlik meer dikwels in groot wildtuine, waar die bevolking nie so nou gemoniteer word nie en waar roofdiere op karkasse toesak.

“Dit is natuurlik vir kameelperdbulle om mekaar uit te daag om hul dominansie te wys, en hulle is gebou om te baklei.”

Hy sê die teenwoordigheid van die twee koeie sou beslis die twee bulle, wat albei op Naval Hill gebore is, se testosteroonvlakke opgejaag het, maar hulle sou mekaar in elk geval in ’n stadium begin uitdaag namate die jonger Paseka groter en sterker word.

You need to be Logged In to leave a comment.