Dankbaar oor nuwe ligte. Van links is Tjaart van der Walt (DA-raadslid), Beatrice de Klerk (wykkomiteelid) en Lappies Labuschagne (inwoner) voor een van die nuwe LED-ligte.Foto: Lientjie Mentz


Een van Bloemfontein se besige strate wat vir jare in donker gehul was weens ’n gebrek aan goeie beligting, spog nou met splinternuwe, moderne ligte.

Centlec het verlede Vrydag LED-straatligte in Jock Meiringstraat in Parkwes geïnstalleer.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid vir die wyk waarin Parkwes val, sê hy vra al vir ses jaar lank dat daar beter ligte in dié straat aangebring word.

Die skole Eunice en Grey-kollege het elk twee ingange uit Jock Meiringstraat. Daar beweeg ook baie leerlinge tussen die skole en ander instellings soos koshuise, middagstudie en ander aktiwiteite. Ouers sit ook en wag vir hul kinders in dié straat.

Helder ligte skyn nou in Jock Meiringstraat in Parkwes, Bloemfontein.Foto: Lientjie Mentz

Van der Walt sê daar was net straatligte op elke tweede paal wat veroorsaak het dat dit baie donker was in dié omgewing.

Lappies Labuschagne, ’n inwoner van die straat, sê daar was in die verlede al baie probleme met misdaad en inbrake in die straat.

“Die nuwe ligte skyn regtig baie helder en selfs tot in inwoners se tuine, wat baie beter is.”

Labuschagne sê hy bly al 14 jaar in Jock Meiringstraat en dit was nog altyd baie donker hier. “Die ligte is ’n groot verbetering op dit wat hier was.”

Van der Walt sê dit is belangrik dat inwoners deelneem aan Mangaung-metro se begrotings- en ontwikkelingsbeplanningsessies wat aangebied word.

“Inwoners van Jock Meiringstraat sowel as die skole het al vier jaar gelede gevra vir beter beligting. Dit het dalk vier jaar geneem, maar hulle het gekry wat op die beplanning was.”

Hy sê hy het met die kontrakteur gepraat en genoem dat hulle dit moet oorweeg om LED-ligte hier aan te bring.

“Dit is nie net koste-effektief nie, maar elke lig bestaan uit ’n hele paar klein liggies. As een dus sou doodgaan, is daar nog baie wat brand.”

You need to be Logged In to leave a comment.