Vriende gaan net vooruit

Die Vriende van die Oorlogs-museum het vanjaar tegnologie omarm om geskiedenis tot meer mense se beskikking te stel.


Die Vriende van die Oorlogs-museum het vanjaar tegnologie omarm om geskiedenis tot meer mense se beskikking te stel.

Gedurende die jaar is gebruik gemaak van lesings waar lede teenwoordig kon wees of via die Zoom-platform aanlyn kon inskakel om lesings by te woon.

Dr. Eben Proos, voorsitter van die Vriende van die Oorlogs-museum, sê dit het veral die impak van die geleenthede verbeter en toeganklik gemaak vir meer mense.

Hy sê die organisasie het vanjaar weer kransleggings gehou ná ’n afwesigheid van byna twee jaar.

Daar was ook ’n Vriende-toer na Pretoria.

’n Splinter nuwe Instagram-blad is ook vanjaar bekend gestel wat fokus daarop om interessante foto’s en stories te deel met almal.

Eben verduidelik die Vriende van die Oorlogsmuseum is op 24 Februarie 1989 gestig omdat daar ’n behoefte ontstaan het vir nouer skakeling tussen die museum en mense wat in die Anglo-Boereoorlog (ABO) belang stel. Die doel van die Vriende van die Oorlogsmuseum is om ’n platform te skep, om gesellighede aan te bied en om hulpbronne en dienste te bied waar mense ’n behoefte daaraan het.

Gereelde vergaderings waar insiggewende lesings aangebied word, asook gereelde reise en toere na slagvelde word ook deur die Vriende aangebied. Die vereniging is ook gemoeid met die dokumentasie van inligting en die instandhouding van erfenisterreine en om dit as toeriste-aantreklikhede te bevorder.

Tydens die jaarvergadering op 12 November by die Oorlogs-museum, is ’n nuwe bestuurspan verkies vir 2023. Tydens die geleentheid is erelidmaatskap aan adv. Colin Steyn toegeken ter erkenning vir sy bydrae tot die vereniging en sy volgehoue bewaring van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog.

Steyn was ook die spreker op die geleentheid met die onderwerp, President M.T. Steyn en Onze Rust – 1898-1916.

Die wenners van die jaarlikse #BloemInstawalk se pryse is ook oorhandig op die spesiale geleentheid.

Die jaarprogram vir 2023 sluit in die Kestell-kranslegging wat plaasvind op 18 Februarie, die Bittereindergedenklesing en kranslegging op 20 Mei, die gewilde Sop en Sjerrie-aand op 26 Julie, die Vriendetoer in September, asook die #BloemInstawalk2023 op 21 Oktober.

Eben sê hy is opgewonde oor die jaar wat voorlê en moedig oud en jonk aan om deel van die Vriende te word.

Ledegeld beloop R50 vir ’n skolier, R100 vir ’n student, en R150 vir individuele lid of gesin per jaar. Belangstellendes kan ’n e-pos rig aan museumvriende@gmail.com.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.