Die Vriende van die Oorlogsmuseum het verlede jaar begin om die geskiedenis met behulp van tegnologie vir meer mense toeganklik te maak.
Deur die loop van die jaar is lesings aangebied waarby lede teenwoordig kon wees of waarvoor hulle via die Zoom-platform aanlyn kon inskakel.
Dr. Eben Proos, voorsitter, sê dit het veral die trefkrag en toeganklikheid van die geleenthede verbeter.
Hy sê die organisasie het ná ’n onderbreking van byna twee jaar weer kransleggings gedoen. Daar was ook ’n Vriende-toer na Pretoria en ’n nuwe Instagram-blad is bekend gestel om interessante foto’s en stories te deel.
Proos verduidelik die Vriende van die Oorlogsmuseum is op 24 Februarie 1989 gestig omdat daar ’n behoefte ontstaan het vir nouer skakeling tussen die museum en mense wat in die Anglo-Boereoorlog (ABO) belang stel.
Die doel van die Vriende van die Oorlogsmuseum is om ’n platform te skep, gesellighede aan te bied en hulpbronne en dienste te bied waar mense ’n behoefte daaraan het. Gereelde vergaderings met insiggewende lesings, en gereelde reise en toere na slagvelde, word ook aangebied.
Die vereniging is boonop gemoeid met die dokumentering van inligting en instandhouding van erfenisterreine, asook die bevordering daarvan as toeriste-aantreklikhede.
Op die jaarvergadering einde verlede jaar is ’n bestuurspan vir 2023 verkies. Ten tyde van die geleentheid is erelidmaatskap aan adv. Colin Steyn toegeken ter erkenning van sy bydrae tot die vereniging en sy volgehoue bewaring van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog.
Steyn was ook die spreker op die geleentheid met die onderwerp “President M.T. Steyn en Onze Rust – 1898 – 1916”.
Die wenners van die jaarlikse #BloemInstawalk-uitdaging se pryse is op die spesiale geleentheid oorhandig.
Die program vir 2023 sluit in die Kestell-kranslegging op 18 Februarie, die Bittereindergedenklesing en kranslegging op 20 Mei, die gewilde Sop en Sjerrie-aand op 26 Julie, die Vriendetoer in September, asook die #BloemInstawalk2023 op 21 Oktober.
Proos sê hy is opgewonde oor die jaar wat voorlê en moedig oud en jonk aan om hulle by die vereniging aan te sluit.
Ledegeld is R50 vir ’n leerling, R100 vir ’n student en R150 vir ’n individuele lid of gesin per jaar. Belangstellendes kan ’n e-pos na museumvriende@gmail.com stuur.