Kinders met Down se sindroom wat van vroeg kognitief gestimuleer word, kan almal lees en skryf.
So sê dr. Dorothy Russell, ’n arbeidsterapeut wat spesialiseer in kinders met dié sindroom en haar doktorsgraad in studie oor die kognitiewe ontwikkeling van dié kinders verwerf het.
Sy was een van die gaste by Downsindroom Vrystaat se afsluiting wat Saterdag by die Koekela-huiskafee aangebied is.
Downsindroom Vrystaat is gemik op volwassenes met dié sindroom wat ’n geleentheid vir hulle, hul ouers en sibbe skep om saam te kuier.
Russel doen al 36 jaar lank intervensie met kinders met dié sindroom om hulle kognitief te stimuleer en ook hul fynmotoriese ontwikkeling te bevorder.
“Dit is belangrik dat intervensie so gou moontlik plaasvind. Ons werk daaraan om dié kinders so onafhanklik moontlik te maak,” sê Russell. Sy en van die ouers met babas met Down se sindroom, het ook die geselligheid bygewoon.
Susette Brynard, ma van Sheri wat dié groep begin het, sê daar is vanjaar tydens die byeenkomste veral gefokus op wat gebeur met dié volwassenes wanneer hul versorgers, wat meestal hul ouers is, nie meer daar is nie.
Op die afsluitings-geselligheid was daar talle vroue wat reeds vir hulle sibbe sorg.
Charles Barnardt bly die afgelope sewe jaar by sy broer Louis en sy vrou, Riana.
Riana vertel haar swaer help haar in haar blommewinkel by Mediclinic Bloemfontein om die boksies te vou.
“Dit hou hom lekker besig en hy help my sommer baie,” sê Riana.
Ellen-Anne Swardt sorg sedert 2009 vir haar broer, Willem Labuschagne. Willem (68), die oudste lid van die groep, is verstandelik gestremd van geboorte af.
“Ek ken vir Willem my hele lewe lank,” vertel Ellen-Anne. Hy bly by my en my man vandat my pa op 80 jarige ouderdom oorlede is.” Sy vertel Willem is mal oor lees. Hy lees graag koerante en tydskrifte.
“Willem het bedags ’n heeltydse versorger, maar saans en naweke moet ek vir hom sorg. Dit maak dit moeilik om naweke weg te gaan, maar ons hanteer dit,” sê sy.
Sy sê sy dink dit is baie moeiliker vir die aangetroude eggenote as vir die sibbe self.
Sheri, die internasionale ambassadeur vir mense met Down se Sindroom, sê sy voel so gelukkig om te sien dat die groep wat sy so graag in Bloemfontein wou begin, so ’n verskil maak in na-skoolse mense met gestremdhede. “Dis vir my baie lekker wanneer ek ander mense soos ek, gelukkig maak.”
Susette sê haar lewe saam met Sheri is so sinvol en geseënd. “Mense met gestremdhede het my geleer van die lewe en ek staan elke dag dankbaar en gelukkig op. Op ’n dag soos Saterdag bring ek eer aan die ouers en sussies wat elkeen hul eie pad saam met hulle sussie, boetie of kind loop. Die Here leer my dankbaarheid in oorvloed.”