Hier is ’n liplekker-resep uit Marinda se Kinderkombuis met Sjef Sout en Prof Pretzel. Daar is resepte vir soet en sout, ontbyt, brood en ander lekkertes, iets vir die kosblik en speel idees uit die kombuislaboratorium.
Hier is ’n resep vir patatrolletjies. Sjef Sout gooi sommer sprinkels oor die resep om dit ekstra vrolik te maak.
Jy benodig:
1 rol skilferkorsdeeg
750 ml fyngedrukte, gaar patat
65 ml kaneelsuiker (60 ml suiker gemeng met 5 ml fyn kaneel)
150 ml witsuiker
250 ml room
Metode:
1. Stel die oond op 180 °C om warm te word.
2. Rol die deeg op ’n oppervlak uit waarop ’n bietjie meel gestrooi is.
3. Smeer die patat oor die deeg en strooi die kaneelsuiker bo-oor.
4. Rol die deeg in die lengte op en sny dit in 10 wieletjies.
5. Kook die suiker en room in ’n groot mengbak in die mikrogolf vir 5 min op hoog (100% krag) of totdat die suiker opgelos het. Roer dit elke minuut.
6. Spuit ’n oondbak met kossproei.
7. Pak die deegwieletjies, met die snykante na bo, in die bak en giet die roommengsel oor.
8. Bak vir omtrent 35 min tot goudbruin.