Daar wag talle eerstes vir toeskouers wat Saterdag die groot rugbytoets in Bloemfontein gaan bywoon.
Kaartjies vir Saterdag se wedstryd tussen die Springbokke en Portugal is almal uitverkoop en daar word verwag dat ’n feestelike atmosfeer in die stad sal heers.
Ronel Pienaar, kommunikasiehoof van Vrystaat Cheetahs, sê dit is fantasties dat al 42 000 kaartjies uitverkoop is in dié geskiedkundige kragmeting tussen Suid-Afrika en Portugal. Dit is die heel eerste keer dat die twee spanne teen mekaar gaan meeding en ook die eerste keer dat ’n vroulike skeidsregter, Hollie Davidson, in ’n Springboktoets gaan optree.
Dié Skotse vrou het al dikwels die geskiedenisboeke herskryf toe sy in 2017 die eerste heeltyds professionele vroue-rugbyskeidsregter geword het.
Sy het in 2021 tydens die Olimpiese Spele opgetree as skeidsregter in die Sewes-rugby en vanjaar het sy die eerste vrou geword wat opgetree het as assistent-skeidsregter tydens die Sesnasies-reeks.
Benewens die opwinding op die veld en die nuutjie van ’n vroue-skeidsregter, kan die skare ook heelwat vermaak te wagte wees.
Kunstenaars soos die Heuwels Fantasties, Biggy en Van Pletzen sal na die wedstryd optree en ook plaaslike sangers Daniel Wesley en Francois Bouwer sal op die Castle-dek optree.
Pienaar sê besoekers kan van 12:00 af kom en sal kan kies uit uit kos van 23 verskillende kosstalletjies.
Talle strate om die stadion gaan Saterdag gesluit wees.
Dit sluit in Att Horaklaan van Eerste Laan tot Parfitlryaan; Betogersweg van Parkweg tot Att Horal; Zola Buddstraat van Kingsweg tot Att Horak en Kingsweg van Parfitt tot by die Castle-dek.
Daar sal ook parkering by die Dr. Böhmer skool wees met saamrygeleenthede na die Toyota-stadion. Rugbygangers kan voor die geleentheid plek bespreek deur Kallie Viljoen by 084-770-1444 te skakel.
Afskop is om 17:00.