Vrou leef ná treinbotsing

’n Ouma van Bloemfontein sê sy is baie gelukkig om te leef nadat sy en haar hond in haar motor teen ’n trein gebots het en sy met net ’n snywond aan haar hand uit die wrak geklim het.


’n Ouma van Bloemfontein sê sy is baie gelukkig om te leef nadat sy en haar hond in haar motor teen ’n trein gebots het en sy met net ’n snywond aan haar hand uit die wrak geklim het.

“Ek het nie eens ’n nael gebreek nie, kyk!” sê Augusta du Plessis (71) en wys haar netjiese en goed versorgde kersierooi naels­.

Dié ouma sê sy is ’n tweede kans in die lewe gegun en is dankbaar om haar storie te kan vertel, al glo mense haar skaars as sy vir hulle vertel haar motor is regtig verlede Dinsdag deur ’n trein naby Rustfonteindam buite Bloemfontein getref.

“Ons dominee sê gewoonlik hou hy begrafnisse vir mense wat in ’n treinongeluk was, maar nou praat hy met my in lewende­ lywe . . .”

Die toestand van Augusta du Plessis se motor nadat dit deur ’n trein getref is.Foto: Verskaf

Du Plessis was laas Dinsdag besig om vleis te verwerk op die familieplaas Liefdesfontein naby die Rustfonteindam buite Bloemfontein.

Sy was die middag met haar bewerkte skaapvleis wat sy vir hul familie se eie gebruik in die kattebak van haar Ford Fiesta gelaai het op pad terug dorp toe. By ’n plek op dié pad moet motoriste ’n treinspoor oorsteek.

“Die pad is in daai omgewing baie sleg, so ek het van nature stadig gery. Toe ek die treinspoor nader, het ek mooi gekyk of ek ’n trein kan sien, maar dis amper onmoontlik, want die bosse daar is baie ruig. Ek is stadig oor die treinspoor toe ek skielik die trein se fluit hoor blaas. Toe ek opkyk, toe is die trein baie naby aan my kar. Ek het rem getrap, maar daar was nie genoeg tyd om agteruit te ry en van die spoor af te kom nie.”

Sy het ’n slag gehoor en het eers later in haar motor in die veld wakker geword.

“Ek het net rook voor my sien dwarrel en die oop lug. Daar was nie meer ’n venster aan die kant of voorkant van die kar nie.

“Die man van die trein het aangestap gekom en ek het vir hom gesê hy moet die deur vir my kom oopmaak, maar hy het gesê ek moet daar bly.”

Du Plessis sê sy het onthou haar foon is aan die motor se radio gekoppel en kon toe haar kontaknommers wat sy onlangs gebel het, ingevoer kry. Sy bel toe haar middelste seun, Arno, wat met beeste op pad was na Bloemfontein.

“My jongste seun, Leon, was eerste op die toneel, want hy was op die plaas naby aan waar die ongeluk gebeur het.

“Hy het dit reggekry om my uit die kar te kry en met my hospitaal toe te jaag.”

Leon het haar na die Medi­clinic in Bloemfontein geneem waar sy ondersoek en behandel is. Benewens die sny aan haar regterhand wat steke nodig gehad het en ’n paar blou kolle aan haar lyf, het Du Plessis genadiglik niks oorgekom nie. Sy is Vrydag ontslaan.

“Ek wou net weet waar die vleis is en dat ons dit moet red, maar my seuns wou niks hoor nie,” vertel sy oor die minute net ná die ongeluk.

Sy moes benewens haar motor ook die skaapvleis, ’n bottel tamatiesous en 2 liter kookolie aan die ongeluk afstaan. Haar hondekind, Jessie, was in die botsing op die agterste sitplek en het ook genadiglik die ongeluk oorleef.

Haar oudste seun, Pieter, sê hulle is baie dankbaar vir ’n gemeenskap van mense wat ingespring het om hul ma ná die ongeluk te help en te verseker sy kry vinnig mediese behandeling.

“Ek was in Rosendal toe die ongeluk gebeur het. As ’n mens ver is, is dit moeilik om die omvang van die situasie te verstaan. Daar was darem baie mense in Bloemfontein op wie se knoppie ons dadelik kon druk om vir ma by te staan,” vertel hy. Sy vrou, Maryna, en Arno se vrou, Vonneque, was van dié wat dadelik seker gemaak het die hospitaal is gereed vir hul skoonma.

Ook die paar dae ná die ongeluk het mense gebel om te hoor hoe dit gaan en goed gebring om haar verblyf in die hospitaal te vergemaklik.

“Dit is ’n dubbele wonderwerk as ’n mens dink dit gebeur baie selde dat iemand ’n treinongeluk oorleef, maar dat hulle dan amper geen beserings het nie, is ongelooflik,” sê Pieter.

Ja, dit was nog nie haar tyd nie, antwoord Du Plessis.

“Iemand moet julle seker vir nog ’n rukkie moeilikheid gee,” terg sy.

Pieter staan egter vas by die oënskynlike wonderwerk.

“Daar is ’n Oubaas daar bo wat na haar kyk. Sy het seker nog ’n doel in die lewe.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.