Vrou leer manne in die skrum sak

Met die vrouerugbyliga wat pas in die stad begin het, is daar een vrou wat oë laat rek omdat sy nie net ’n oud-Springbok is nie, maar mans-rubyspelers in die voorry afrig.


Met die vrouerugbyliga wat pas in die stad begin het, is daar een vrou wat oë laat rek omdat sy nie net ’n oud-Springbok is nie, maar mans-rubyspelers in die voorry afrig.

Marlize van der Merwe is die eerste vroulike afrigter by die Bloemfontein-rugbyakademie.

Hoewel sy al jare rugby afrig, sê sy dit was ’n aanpassing om by die “groot manne” in te val.

“Met die eerste oefening kon ek ’n paar se oë sien rek oor dié vrou in die afrigtingspan. Maar sodra hulle sien jy kan nie net ’n bal gooi en vang nie maar weet ook waarvan jy praat, respekteer hulle jou as ’n gelyke,” sê sy.

As kind het Van der Merwe nie van rugby gehou nie.

“Ek was so half vies vir rugby. Dit en krieket. Al die man­sportsoorte het altyd die finansiering gekry.”

Sy sê as netbalspelers en atlete moes hulle altyd bakhand staan en geld elders insamel.

“Ek het nie eens rugby op televisie gekyk nie.”

As tiener het sy egter rugbyvaardighede ontwikkel omdat hul skool se heelagter haar buurman was.

“Ons het altyd die bal heen en weer oor die telefoondraad geskop en soms vir mekaar gegooi,” vertel sy.

Dit was eers jare later, in 2002, dat sy haarself amptelik by ’n vrouerugbyspan aangesluit het.

In die jare daarna het sy die land in die vrouesewesspan in 2009 se wêreldbekertoernooi in Dubai verteenwoordig en ook in die vyftiental gespeel.

Sy het verder as skeidsregter op die internasionale verhoog naam gemaak.

Sy sê dit lyk asof die vroue in Bloemfontein nou in rugby begin belang stel.

“Ons het aanvanklik net vyf vroue gehad wat wou rugby speel. Daar is nou al 67 wat wil kom oefen.”

Sy moedig vroue wat in die sport belang stel aan om oefeninge by te woon.

“Dit is regtig lekker en glad nie fisiek so hard soos die mans se spel nie,” voeg sy by.

Die stad se Collegians-vrouespan het oor die Paasnaweek weggestap as die wenner van die Harlequins-rugbytoernooi, wat in Pretoria gehou is. Van der Merwe is ook dié span se afrigter.

Rassie Erasmus, direkteur van rugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, het vroeër vanjaar sy steun aan vrouerugby uitgespreek.

“Dit is ’n mite dat meisies nie rugby wil speel nie. As jy hulle kan kry om te sosialiseer (met rugby) en dit te verstaan, sal hulle dit geniet.”

Erasmus het verder gesê meer blootstelling aan die spel sal dié sienswyse nek omdraai.

  • Die stadsliga vir vrouerugby het Saterdag (23/04) in die Clive Solomon-stadion begin. Agt spanne ding in die liga mee: Mangaung, Bloemfontein Weermag, Collegians, Wolverines, SUT, Botshabelo, Spartans en Lesotho Highlands.

Die Vrystaatse vrouespan speel op 2 Julie teen die Griffons in die interprovinsiale eerstedivisie-groep.

Die span ding ook teen SWD en Griekwas mee. Die eindstryd van die interprovinsiale wedstryde is op die program vir 30 Julie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.