Met die bordspeletjie Radaph het Bloemfonteiner Trix Roux twee van haar passies gekombineer in iets wat familie en vriende bymekaarbring.
Trix sê sy het haar lewe lank nog ’n passie gehad vir bordspeletjies en die Bybel.
Sy het 25 jaar gelede al begin om vrae en antwoorde uit die Bybel saam te stel. Dié tydverdryf het haar van haar laerskooldae tot op universiteit besig gehou en mettertyd het sy dit in ’n hele speletjie ontwikkel, maar sy het dit jare lank in die kas vergeet.
“In 2016 het ’n vriendin eendag gesê hulle wil my speletjie speel. Die klomp mense was mal daaroor. Hulle het ook aanbeveel dat ek my speletjie in Engels vertaal.”
Weens werkverpligtinge het sy min tyd gekry om aandag aan die bordspeletjie te gee, tot die erge inperking in Maart 2020 haar by die huis vasgekeer het.
“Skielik was ek saans en naweke tuis met niks om te doen nie. Ek het al die vrae in Engels vertaal en die Afrikaanse vrae hersien. Ek het ook begin navrae doen waar ek so ’n bordspeletjie professioneel gemaak kan kry.”
Trix sê dit was nie so maklik nie – sy moes verskillende elemente van die speletjie soos die bord, boks en stukkies waarmee gespeel word op verskillende plekke laat maak.
Dit sluit skapies in wat die verskillende spelers verteenwoordig, boeke en munte waarmee eiendom gekoop kan word, die kaartjies waarop die vrae en antwoorde is en nog kaartjies met instruksies en uitdagings op.
Sy moes ook toestemming by die Bybelgenootskap kry om die teks uit die Bybel te gebruik.
Radaph is ’n Joodse woord wat beteken “om iets na te jaag.”
Trix sê die doel van die speletjie is om die kaartjies vir geloof, hoop en liefde wat onder plekke op die bord versteek is, te vind.
Sy sê die terugvoer wat sy van mense oor die speletjie gekry het, was positief en selfs kinders geniet dit sommer baie.
- Daar is tien vrae uit elke boek van die Bybel, wat sal maak dat spelers dié speletjie weer en weer kan speel. Een leser staan die kans om ’n stel van Radaph te wen.
Besoek Bloemnuus se Facebook-blad om in te skryf.
Bel Trix by 082-094-9116.of estel die speletjie op die webblad.