Drie vroue wat tydelik in Bloemshelter tuisgaan, het op 13 Desember sertifikate ontvang vir kortkursusse wat hulle danksy die Universiteit van die Vrystaat (UV) voltooi het.
Rouxan Fouché van die UV se departement rekenaarwetenskap en informatika, wat die kursus aangebied het, het die sertifikate oorhandig.
Die vroue het elk die kortleerprogramme in MS Word, Excel, Power Point en Acess voltooi.
“Hierdie kursusse sal hulle baie help om werk te kry,” sê Fouché.
“Dit is die basiese rekenaarprogramme wat ’n mens nodig het om intreevlak-werk te kry.”
Die vroue sê hulle het die kursusse sommer baie geniet.
Die UV het die kursusse gratis vir hulle aangebied en die vroue het boonop vir die duur van die kursus skootrekenaars gekry waarop hulle kon oefen.
Bloemshelter en sowat 200 lede van Love Life in Botshabelo het by dié projek gebaat.
Alfie Moolman, raadslid en koördineerder van die program by Bloemshelter, asook verbonde aan die UV se direktoraat gemeenskapsbetrokkenheid, sê die vroue by Bloemshelter het die geleentheid aangegryp om hul vaardighede te verbeter.
“Die UV se inligtingstegnologie-diensleerprojek is ’n wonderlike voorbeeld van hoe die UV help om in die behoeftes van mense te voorsien en die digitale agterstand van werklose mense te verbeter.”
Fouché sê weens Covid-19, moes die programme ietwat anders as in die verlede aangebied word.
“Ons het video’s gemaak waarop kursusmateriaal aangebied is in stede van klas-aanbiedings.”
Moolman sê die vroue het nogtans ywerig gewerk en gou die toepaslike vaardighede aangeleer.
Fouché werk nou aan ’n doktorale graad met die klem op rekenaarinligtingstelsels.
“Suid-Afrika mik daarna dat 100% van sy inwoners digitale geletterdheid en vaardighede het. Dit is die plig van alle betrokkenes, van die regering tot universiteite, om mense toegang tot digitale vaardighede te bied.”