Die dubbelverdiepinghuis met 14 kamers is netjies oorgedoen en staan nou as Miracle House bekend. Dié tuiste vir vroue en kinders sal binnekort open. Foto’s: Lientjie Mentz

Wonderwerke gebeur nog.

Die eerste groot wonderwerk is dat Anchor of Hope die groot dubbelverdieping-huis in A.E. Viljoenplein wat vroeër Sannie se Kombuis gehuisves het, gratis ontvang het.

Die inwoners wat nog daar gewoon het, is uitgeplaas en die groot werk kon begin.

Boeta Swart, stigter van Anchor of Hope, het hierdie geleentheid met oorgawe aangepak en die gemeenskap van Bloemfontein gevra om te help sodat dit omskep kan word in ‘n veilige halfweghuis vir vroue en hul kinders.

Boeta Swart, stigter van Anchor of Hope, in Miracle House in Hilton.

Mense het geluister en meer as 20 ondernemings en tien kerke het daartoe bygedra dat die huis en tuin ‘n algehele oormaaksessie kon ondergaan.

Anchor of Hope het op Woensdag 14 Mei ‘n ope dag gehou om die gemeneenskap te wys hoe dié huis, nou genoem Miracle House, daar uitsien. Dit is nou ingerig met 14 kamers vir ma’s en hul kinders, om ‘n tydelike tuiste te wees.

Swart sê die idee van so ‘n huis het ontstaan uit Anchor of Hope se Pregnancy Crisis Centre, waar jong meisies wat swanger word ‘n tydelike tuiste het.

“Daar is dikwels nie ‘n plek vir hierdie jong mammas om heen te gaan totdat hulle op hul voete is nie,” verduidelik hy.

Miracle House het skenkings gekry van beddens en beddegoed vir al die kamers. Dit is ingerig vir ‘n ma en haar kinders. DIe rakke word deur Anchor of Hope se werkswinkel gemaak. Foto: Lientjie Mentz

“Talle ander vroue wat uit slegte huishoudelike omstandighede vlug, sal ook hier ‘n toevlug kan kry.”

Die huis is in 1940 as hospitaal gebou en later gebruik as losieshuis, asook ‘n koshuis vir leerlinge van Sentraal. Die liefdadigheidorganisasie Sannie se Kombuis was later hier geleë.

Die huis is binne en buite uitgeverf; boonop is badkamers heeltemal oorgedoen en nuwe storte en sanitêre ware aangebring. Die kombuis is oorgedoen, met Ancor of Hope wat self al die netjiese kombuiskaste gemaak het.

‘n Hospitaal het beddens geskenk en Anchor se werkwinkels het die kaste vir elke kamer gemaak, asook die banke vir die sitkamers.

Die houtvensterrame is met staalvensterrame vervang.

Miracle House is met ‘n sonkragstelsel toegerus, wat in die toekoms baie gaan help om die munisipale rekenings so laag as moontlik te hou.

Swart sê net soos met die Lighthouse Upliftment Centre, die mansskuiling in Lombardstraat, gaan die vroue wat in Miracle House woon, ook gehelp word om werk by een van die projekte te kry.

“Ons het met groot sukses begin om by Anchor of Hope op werkskepping te fokus. Die wins wat gemaak word, word direk teruggeploeg in ons verskillende projekte tot voordeel van almal.”

Só skep Anchor se projekte deesdae werk vir 60 heeltydse werkers.

“Dit is ‘n droom om ons projekte onafhanklik te laat funksioneer,” sê Swart.

Daarmee kan hy die kring waarin mense gehelp word en die omgewing versorg word, danksy die talle skoonmaakspanne, bly vergroot.

“Ons het agt jaar gelede begin om ons projekte op besigheidsmodelle te skoei. Dit funksioneer soos ‘n gemeenskapsonderneming en is volhoubaar.”

Swart sê daar kort enkele artikels sodat die huis gereed is wanneer al die regulatoriese prosesse afgehandel is. Dit sluit in: ‘n platskerm-TV, kussings vir die banke, bedlampies en nog ‘n 12-sitplek-eetkamertafel. Skenkings waarmee komberse gekoop kan word, is ook nodig.

Mense wat betrokke wil raak, kan Swart by 083 325 1899 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.