’n Besonderse ode aan vroue in diep, helder kleure en interessante mediums vorm deel van ’n uitstalling wat nou in die Nasionale Museum besigtig kan word.
Dit is Marelie van Rensburg, senior museumontwerper en kunstenaar by die museum, se tweede solo-uitstalling, genaamdI am Woman.
Haar werke was al te sien in uitstallings soos die agtste New Beginning Solo by Gallery on Leviseur in 2020; Ensamble, wat in 2016 ook daar aangebied is; die Sasol New Signature-kunskompetisie in 2015 by die Pretoria-kunsmuseum; en ARTevent Modern Miniatures wat in 2013 in Port Elizabeth gebou is.
Oor haar keuse om op portrette van vroue te fokus, sê sy dat die uitstalling saam met Internasionale Vrouemaand val; ook dat sy al baie onderwerpe geskilder het, maar vir nou geniet sy portrette.
“In hierdie uitstalling is almal vroue wat op die een of ander manier saam met my werk. Ek het vroue geskilder uit wie daar lig straal.”
Sy het elkeen se unieke prag op kunstige wyse vasgevang, en elke kunswerk vertel ’n storie wat besonderse emosie ontlok.
Van die werke het sy reeds in 2019 voltooi, maar heelwat hiervan is eers die afgelope tyd geskep.
Met die uitstalling vier Marelie die vroue wat saam met haar werk.
“Die kunswerke wys sterk Suid-Afrikaanse vroue se erfenis wat deur hul ma’s aan hulle oorgedra is. Wanneer omstandighede moeilik is, bid vroue; hulle trek saam; verenig in gemeenskappe; en hulle maak planne om vir hul families te sorg, soos dit vroue se aard is,” skryf sy in die katalogus.
I am Woman
is op 18 Maart geopen en kan nog tot 8 April in die Nasionale Museum besigtig word.