Personeel van die Nasionale Museum het hulle vir die Victoriaanse-tee­partytjie geklee in voorskootrokke wat in die Victoriaanse era tipies deur diensmeisies en kinder­oppassers gedra is. Hul kappies is vir die geleentheid vervang met ’n bolhoed elk. Van links is Lucy Richards, Engelina Mogoe­ra, Elmar du Plessis, Annah Chacha en Sudré Havenga.


Die tema van die Nasionale Museum se Vrouemaandvieringe is: “Sy dra vele hoede.”

Nie net is die tema verder deurgevoer met uitstallings van hoede uit verskillende eras (1880 tot 1970) in die Freshfordhuis-museum nie; kunswerke uit Oliewenhuis en die Kunsbank van Suid-Afrika se versamelings wat die verskillende fasette van vrouwees uitbeeld, word ook in die Oliewenhuis-kunsmuseum uitgestal.

Vrydag (25/08) het die drie museums ’n Victoriaanse teepartytjie in die tuin van Freshfordhuis aangebied, en gaste is vooraf versoek om ’n hoed te dra om by die tema van die dag te pas.

Dr. Feziwe Bisiwe, ’n nefroloog aan die Universitas- Akademiese Hospitaal, was die gasspreker wat met vroue gesels het oor hoe belangrik dit is om balans te handhaaf tussen werk, ’n huisgesin en persoonlike welstand.

“Jy hoef nie perfek te wees nie – jy moet net beter wees as wat jy gister was,” is haar raad aan vroue.

“Ons moet leer om nee te sê. Dit is belangrik dat mense weet wat jou grense is. Dis moeilik, want dis in ons vroue se DNS om alles vir almal te wil doen.”

Die uitstalling van hoede wat in Freshfordhuis te sien is, is deur Sudré Havenga en Elmar du Plessis van die Nasionale Museum se versamelings-afdeling saamgestel.

Die uitstallings by Freshfordhuis, Oliewenhuis asook in die Nasionale Museum duur tot Saterdag (02/09).

You need to be Logged In to leave a comment.