Onder die wye verskeidenheid stalletjies wat op Saterdag 30 November op die Franse Mark by Villa Avianto buite Bloemfontein gaan wees, is daar eg Suid-Afrikaanse produkte van Die Dameskring.
Die Dameskring (DK) is ’n landswye organisasie vir Christenvroue. Die doel is om vroue te bemagtig en te inspireer om as leiers en positiewe verskilmakers hul gemeenskap te dien en aan Suid-Afrika te help bou.
Suzanne Myburgh, uitvoerende bestuurslid van die DK in Vrystaat-sentraal en -suid, sê produkte wat op die DK se aanlyn winkel Die Koöp beskikbaar is, is op die mark te siene.
Dit sluit in die boeke Waardes vir Woelwaters en Morals for Minors, kaasborde, gegeurde babaprodukte, handgeverfde porseleinbakkies en -borde, leerskoene en handsakke en die organisasie se eie speletjie, Ken-jy-my?
Daar is Saterdag 86 uitstallers wat geskenke en smulgoed aanbied.
Die mark, met Kersmusiek en vakansie-atmosfeer, begin Saterdag om 09:00 en duur tot 15:00. Toegang kos R30.
BloemNuus is die gedruktemediaborg van Villa Avianto se Franse Mark.